SUID-KAAP NUUS - Tweekamp is ‘n sportsoort wat geweldig baie bied vir die deelnemer en betrek die hele gesin.
Dit is ‘n sportsoort wat nie tyd gebonde is nie - daar is deelnemers wat bykans 80 jaar oud is.
Die visie van SWD Tweekamp is om meer as net ‘n geleentheid te bied om aan sport deel te neem - die doelwit is om vir deelnemers ‘n lewenswyse te help skep.
Tweekamp bestaan uit swembad-swem (25m, 50m of 100m) en baanhardloop (400m tot 2000m). Die tyd behaal in beide die swem en hardloop word in punte omskakel deur middel van 'n gestandaardiseerde puntetabel en dan bymekaargetel vir die totaal.
Vanaf die junior veterane word bonuspunte bygereken, ongeveer 15 punte per jaar vir elke jaar wat die atleet ouer is as die aanvangsdatum. 2 000 Punte word beskou as ‘n billike punt om in aanmerking vir ‘n provinsiale span te kom (vyf per ouderdomsgroep), maar die finale besluit word deur die keurkomitee geneem.
Belangrike inligting
Die ouderdomsgroepe is soos volg: O.8, o.9, o.11, o.13, o.15, o.17, o.19, senior of ope (enige ouderdom), junior veterane (27-39 jaar), veterane (40-49 jaar), senior veterane (50-59 jaar) en meesters (60+).
Die SA kampioenskap maak ook nou voorsiening vanaf o.9. Die afstande is soos volg: Hardloop en swem - o.8 400m - 25m; o.9 en o.11 800m - 50m; s.13 1200m - 100m; s.15 1500m - 100m; s.17, s.19 en senior mans 2000m - 100m. Alle meisies/dames en veterane tot senior veterane 1000m - 100m, meesters 800m - 50m en senior meester - 65+ 400m - 50m.
Die amptelike seisoen strek vanaf September tot April en die ouderdom wat die atleet op 31 Augustus is, bepaal sy deelname ouderdomsgroep vir die res van die seisoen.
In die SWD word verskeie byeenkomste elke seisoen aangebied; ligabyeenkomste (vier), ontwikkelingsklinieke (vier), asook ten minste twee interprovinsiale byeenkomste. Dit roteer tussen George, Oudtshoorn en Mosselbaai. Die kleredrag vir ligabyeenkomste is die skool of klub se amptelike atletiek- en swemdrag. Provinsialeklere word net vir provinsiale geleenthede gebruik. Skole, klubs en atlete registreer en lisensieer by die eerste byeenkoms in Oktober van elke jaar.
Tans is daar ook ‘n skoleliga ingebou waar die twee beste laer- en hoërskole kan deurdring na die interprovinsiale en nasionale byeenkomste.
Die tradisionele interprovinsiaal waar agt provinsies deelneem, word jaarliks as die DCAS/Highgate Groter Oudtshoorn Interprovinsiale tweekampbyeenkoms op 3 Februarie op Oudtshoorn aangebied. Die SA kampioenskap op 31 Maart vind in Pretoria plaas en word deur Gauteng-Noord Tweekamp aangebied.
Vir enige navrae kan Dave van der Walt by 082 773 4901 gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'