GEORGE SPORTNUUS - SA tweekamp het op 'n geskiedkundige spesiale jaarvergadering op Woensdag 8 September, ingrypende besluite geneem om tweekamp in Suid-Afrika by die eise van die vinnig veranderde omstandighede aan te pas. Al die provinsies en die volle SA bestuur was teenwoordig.
Dave van der Walt, operasionele bestuurder, Eden-tweekamp het in 'n verklaring gesê die veranderinge sal alreeds die komende seisoen in werking tree, toegegee die Covid-19-inperkingsmaatreëls.
Dit behels in kort dat daar groter samewerking met SA vyfkamp gaan wees. "Dit gaan behels dat ons tweekampers 'n kopskuif sal moet maak om daarby aan te pas."
Hierdie aanpassings het onder andere tot voordeel dat -
- Internasionale deelname moontlik gaan word.
- Byeenkomste se tydsaspek van aanbieding heelwat korter gaan wees.
- Heelwat meer aktiewe atlete betrek kan word.
- Ouderdomsgroeperinge nou aanpas, met ander woorde, dit word bepaal deur ouderdom op 1 Januarie.
Eden-tweekamp het 'n opname onder sy atlete en bestuurslede gedoen en 77% het aangedui dat hulle ten gunste van die verkorte afstande is.
Belangrike inligting
- Die balans-gewig tussen swem en hardloop word bepaal.
- Met die aanvang van die seisoen in September neem atlete reeds deel in die volgende jaar se ouderdomsgroep en afstande.
- Byeenkomste interprovinsiaal en nasionaal word meer hanteerbaar.
- Die seisoen gaan nou moontlik deur die jaar strek onder SA vyfkampvaandel.
- Nuwe tabelle sal nou opgestel word en aan provinsies beskikbaargestel word.
- Alle administrasie in Eden bly egter soos voorheen in ag genome die aanpassings.
SA tweekamp het Eden-tweekamp versoek om die eerste SA kampioenskappe in die formaat in Maart/April 2022 in Oudtshoorn aan te bied.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'