Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - Nie eers die moordende son kon vroeg Dinsdagoggend, 29 November die geesdrif demp toe die Militêre Akademie se Trans Enduro-uithouren by die Garden Route Mall in George hervat is.
Die uithouren het reeds Vrydag in Gqeberha in die Oos-Kaap begin en Dinsdagoggend het hulle na Stilbaai vertrek. Dit eindig Saterdag, 4 Desember by Hoedjiesbaai-strand in Saldanhabaai.
Dit is vanjaar die 40ste keer dat dit plaasvind en sowat 150 studente uit eerste en tweede jaar geledere neem deel.
Nege spanne, wat land-, draf-, logistiek-, sein-, media-, fietsry- en seespanne insluit, reis oor ’n tydperk van tien dae van Gqeberha na Saldanha en slaap op hul tog by dorpe langs die pad oor.
Die uithouren word gehou om geld in te samel vir die Militêre Akademie se Masiza-gemeenskapsprogram, terwyl die studente ook langs die pad by projekte vir sosiale impak soos die skoonmaak van strate en woonbuurtes, die verf van skoolgeboue en besoeke aan tehuise vir bejaardes betrokke is.
Die Masiza-program fokus vanjaar op bejaardes en vroeë kinderontwikkeling.
Die drawwers kort nadat hulle weggespring het. Foto: Eugene Gunning
Die drafspan lê elke dag 'n afstand van 10km af. By sekere punte ruil die spanne om.
Lt. Ntlhake Pooe, woordvoerder van die uithouren, het kort voor die hervatting daarvan in George gesê dis deel van teruggee aan die gemeenskap. Die studente geniet dit.
Raybin Figland, George se onderburgemeester, het die deelnemers afgesien. Hy het dit as 'n aangrypende oomblik beskryf.
Hy het 'n sagte plekkie vir die geleentheid. Toe hy verlede jaar onderburgemeester geword het, was sy eerste openbare taak ook om die deelnemers af te sien.
Volgens hom het die Weermag 'n belangrike rol om te speel in die gemeenskap. Deelnemers aan die uithouren is deel van 'n uitsonderlike groep. Hulle is wat Suid-Afrikaners nodig het. Hulle kom van regoor Suid-Afrika en het een gemeenskaplike doel naamlik om Suid-Afrika te beskerm en te verdedig.
VIDEO: Fietsryers vat die pad
VIDEO: Trans Enduro in George
VIDEO: Onderburgemeester by uithouren
VIDEO: Trans Enduro in George hervat
Hy het hulle namens die inwoners van George en Suid-Afrika bedank vir hul groot taak.
Hy het bygevoeg om 'n soldaat te wees verg dissipline.
Nadat die al die formaliteite afgehandel is, het eers die fietsryers weggespring. Daarna het die groep drawwers al singende begin met die kwik wat in daardie stadium al hoog gestyg het.
Raybin Figland, George se onderburgemeester oorhandig 'n boek oor George aan kol. Robin Hlabana, die tweede in bevel van die akademie. By hulle staan middelskipman Lehlohonolo Ramokoena.
Die fietsryers vat die pad. Hulle het by die Garden Route Mall weggespring. Foto: Eugene Gunning
Waar kom OPERASIE TRANS ENDURO vandaan?
Oefening Trans Enduro strek terug as 1982 toe ’n groep jong offisiere beplan het om ná afloop van hul eksamen op ’n avontuurtog te vertrek. Die militêre studente het die kommandant omgepraat om hulle toe te laat om ’n tien dae lange uithouren van Port Elizabeth na Saldanha in twee rubberbote te onderneem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'