Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - As die entoesiasme wat Maandag 12 Desember by Hoërskool Heatherlands geheers het 'n maatstaf kan wees, wag groot pret by die George Africa Tens sport- en leefstylfees wat van Donderdag 15 Desember tot Sondag 18 Desember aangebied word.
Dit is die derde keer dat die fees aangebied word. Rugby (10-kode rugby - mans en vroue) is die hoofdis, maar daar sal ook in gholf, netbal, strandvlugbal, raakrugby, veldlope en bergfietswedrenne meegeding word. Die rugby begin Vrydag.
Die boeresport en raakrugby vind op 16 Desember plaas en die vlugbal op 17 Desember. Die boeresport voor die raakrugby en strandvlugbal sal by Wildernisstrand plaasvind.
Maandag in aanloop tot die fees is die rugbyafrigtingskliniek vir leerlinge aangebied. Leerlinge van verskeie skole in George het dit bygewoon. Onder die wakende oog van Anton Moolman, hoofafrigter van die SWD Arende, lede van sy afrigtingspan en spelers van die Arende is leerders in die fynere kunsies van rugby touwys gemaak.
Die geleentheid is ook bygewoon deur Heyneke Meyer, 'n voormalige afrigter van die Springbokke en een van die organiseerders van die naweek se geleentheid. Leon van Wyk, George-burgemeester, het ook kom kyk hoe sake verloop.
Seuns en dogters het aan die kliniek deelgeneem. Te oordeel aan die balvaardighede van sommige van die deelnemers, was daar dalk 'n toekomstige SWD Arende of twee teenwoordig.
VIDEO: Die Tens is hier
Lizelle Pienaar, wat by die organisering betrokke is, het gesê die kliniek is 'n gemeenskapsprojek van die Arende. "Die leerlinge wil graag eendag vir die SWD Arende speel en die spelers is hul helde."
Moolman het gesê dis 'n voorreg om die jeug te kan help en iets te kan terugploeg in die gemeenskap. “Ons het almal op 'n jong ouderdom begin.”
Van Wyk het gewys het op die voordele van die geleentheid. Volgens hom is dit van groot waarde vir George en dit het 'n groot effek op die plaaslike ekonomie. Baie mense baat by die geleentheid.
Dit vind oor 'n paar dae in die vakansietyd plaas. Vanjaar is daar baie meer deelnemers as verlede jaar.
Dis 'n unieke sosiale byeenkoms waaraan baie mense kan deelneem. Dis nie die gewone sportkompetisie waar daar wenners en verloorders is nie. Almal neem deel want hulle wil deelneem.
Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid en Heyneke Meyer, een van die organiseerders.
Meyer het gesê daar word vanjaar beslis meer toeskouers as verlede jaar verwag. Verlede jaar moes toeskouergetalle beperk word as gevolg van Covid-19-regulasies.
Hy het ook verwys na die voordele van die nuwe datum. Verlede jaar is dit vroeg in Desember gehou. Hy was aanvanklik bekommerd gewees dat spanne nie gaan inskryf as gevolg van die nuwe datum. Die tyd van die jaar gaan mense met verlof.
Verskeie spanne het ingeskryf. Hy sal graag wil sien dat die nuwe datum behoue bly.
Altesame 23 vrouerugbyspanne is onder die rugbyinskrywings, wat o.13-spannetjies insluit. Die mans bly egter nie agter nie en minstens 40 spanne gaan deelneem.
Benewens die sport is daar lewendige vermaak veral saans en dit sluit konserte in van onder andere Heuwels Fantasties, Spoegwolf, Early B en die 1925 Band.
Leon van Wyk, George se burgemeester en Heyneke Meyer by die afrigtingskliniek.
Die afrigtingskliniek Maandag by Hoërskool Heatherlands. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'