SUID-KAAP MOTORNUUS - Die afgelope naweek het die jaarlikse, en seker die grootste ovaalbaanbyeenkoms buite die Klein-Karoo-kampioenskappe, die Wynland-kampioenskappe, in Worcester plaasgevind.
Sowat 150 motors het deelgeneem en heelwat SWD-renjaers het die pad Worcester toe gevat vir die 2-dag byeenkoms. Twee uitdunne in elke klas is Vrydagaand afgehandel en nog twee uitdunne en die eindstryd Saterdagaand.
Die wenner in elke klas was uiteindelik die renjaer met die meeste punte vir die hele naweek.
Die groot ster uit die SWD was Lucius Fourie van Oudtshoorn. Fourie het die eindstryd vir gemodifiseerde V8-klas gewen en is gekroon as Wynland-kampioenskap se V8-kampioen.
Hy is ook gekroon as topbestuurder van die kampioenskap.
Lucius Fourie van Oudtshoorn het die V8-klas syne gemaak met sy Lexus V8 Flexi. Fourie is ook as topbestuurder van die kampioenskap gekroon.
Die ander gemodifiseerde V8-klas se SWD-jaers was Piet Combrink, Albert Olivier senior en Albert Olivier junior. Olivier senior het die kampioenskappe in 'n puik tweede plek voltooi. Olivier junior het al sy uitdunne en die eindstryd voltooi terwyl Combrink, ten spyte van 'n pap wiel, die kampioenskappe in die vyfde plek kon klaarmaak.
In die 1660-klas het twee manne van Oudtshoorn deelgeneem en Arno van Wyk het die uitdunne en eindstryd klaargemaak. Oudtshoorn se 1660-ster, Burger van der Westhuizen, het met sy vinnige Ford Fiesta op punte en in die eindstryd in 'n algehele tweede plek geëindig.
Albert Olivier senior het 'n skitterende tweede plek in die eindstryd vir gemodifiseerde V8-klas en kampioenskap behaal. Foto's: Francois Germishuys
Die 2.1-klas het drie deelnemers van SWD gehad. Vian Verwey moes ongelukkig Vrydagaand al weens meganiese probleme die handdoek ingooi.
Henties de Villiers het nieteenstaande 'n groot ongeluk Vrydagaand teruggeveg en 'n skitterende derde plek in die eindstryd behaal. George se Alistair Simpson het die heel naweek uitstekend gejaag en 'n tweede plek in die eindstryd asook 'n tweede plek in die kampioenskap losgejaag.
Alistair Simpson het 'n skitterende tweede plek behaal in die 2.1-klas met sy haastige Opel Corsa.
Die Hitstjor (hotrod)-klas is slegs deur Clive Meyer verteenwoordig. Meyer het heel naweek gesukkel met 'n kar wat nie lekker hanteer het nie, maar steeds 'n sesde plek in die kampioenskap behaal.
Burger van der Westhuizen het met sy Ford Fiesta algeheel tweede geëndig in die 1660-klas.
Die vier Stock rod-inskrywings uit Oudtshoorn het almal gesukkel met meganiese probleme, maar Hendrik Stander kon daarin slaag om al die uitdunne sowel as die finaal te voltooi.
Baie geluk aan al ons streek se renjaers, julle hou SWD se naam hoog!
Henties de Villiers het, ten spyte van baie teëspoed, derde geëindig in die 2.1-klas met sy Opel Corsa. Foto's: Francois Germishuys
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'