Update
ROLBAL NUUS - Die Stilbaai-rolbalklub se Presidentsdag-toernooi is op Saterdag, 18 Junie in ysige koue en nat toestande afgehandel.
Stilbaai, Riversdal, Mossel-baai, Witsand en Hartenbos se spelers het gewys van watter stoffasie hulle gemaak is en die laaste spelers het eers na 17:00 sopnat en koud die klubhuis binnegestap.
Niks verdryf die koue egter so vinnig soos 'n glasie sjerrie nie en hulle was vol glimlagte tydens die prysoorhandiging.
Die president, Dup van Renen, het eers die spelers bedank dat hulle deurgedruk het en daarna het hy ook die borg van die lootjiekompetisie, Kind 2 Hearing, bedank vir twee gehoortoetse van R1 200 elk.
Wat die dag se spel betref het Stilbaai se Lidia Basson, Peter Alexander en Bessie Olivier in die eerste plek klaargemaak.
Tweede was Hartenbos se Gert Kruger, Lindi Kruger en Dixie van Rensburg. In die derde plek was Witsand B met Anton Swanepoel, Marie Boshoff en Pieter Marais.
Witsand A, met Pieter Rademeyer, Loekie Roos en Jan Storm was vierde en in die vyfde plek was Stilbaai se Anelie van Renen, Dup van Renen en Cheryl Worth.
Stilbaai se wenspan. Van links: Lidia Basson, Peter Alexander en Bessie Olivier by Dup van Renen, president van die Stilbaai-rolbalklub. Foto's: Johan Victor
Anelie van Renen van Stilbaai in aksie tydens die Presidentsdag-toernooi.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'