Die aand is deur ‘n aantal wegholoorwinnings gekenmerk en dit was veral die nuwe, onervare spanne wat aan die korste end getrek het.
Die ABSA Privateers (14 wedstrydpunte) het gemaklik met 25-4 teen die Houtkewers gesëevier, die Vintage Rollers (13 punte) met 21-4 teen die Abacus E-Lemonators, en DTM Nissan (13 punte) het met 19-6 met Getting There afgereken.
Dit is ook gepas dat hierdie drie spanne die eerste drie top posisies na die eerste ronde beklee. Benewens die Vintage Rollers en DTM Nissan, bevind die Forgotten Ones hulself ook op 13 wedstryd-punte. Die CA Team het hul terugkeer tot die toernooi met ‘n oorwinning van 14-10 teen Burger en Genote gevier en is tans vyfde geplaas.
Dit sal sou onvanpas wees om vir Nels Meubels, ‘n vorige Brandhouse Kampioen (tans 11de) tesame met Aurecon en die Greenies na die eerste ronde af te skryf. Hierdie spanne het in die verlede groot karakter getoon en hierdie toernooi behoort geen uiotsondering te wees nie.
Wat die borgspanne betref, is dit M-Sec Sekuriteit wat die pas aangee. Hul oorwinning van 18-7 teen The Bay Girls het aan hulle die sesde plek besorg.
Brandhouse, die hoofborg, moes die knie met 9-10 teen die Greenies buig terwyl ook Secunda Sales naelskraaps met 10-12 teen Aurecon aan die verloorkant was.
Vir ‘n groot aantal spelers was hierdie hul eerste kennismaking met rolbal as spel. Oor die oorblywende vyf weke van die Brandhouse-toernooi sal hulle besef dat hierdie sport deur almal geniet word en dat die toernooi ‘n eiesoortige kameraderie tussen spelers en spanne tot stand bring.
Verskeie spanne en spelers, wat oor die afgelope sowat twee jaar aan Brandhouse toernooie deelgeneem het, sal op 27 April aan die National Bowls Awareness Day deelneem in ‘n poging om ‘n wêreldrekord op te stel.
Enige belangstellendes kan vir John Young (083 787 9032) by die Outeniqua Rolbalklub kontak.
_jpg(3).jpg)
Buitendag Rahl se span in ligte luim na afloop van die eerste ronde.
_jpg(5).jpg)
Die Houtkewers se span voel tevrede met hul probeerslag in die eerste ronde.