GEORGE NUUS - Met hul een oog wat deurgaans na die kampioenskapstitel geloer het, het Skubbe gaandeweg hul pad na die topposisie in die Kommaweer Stoffeerders en Love 4 Vintage Somerliga vir besigheidspanne van die Outeniqua-rolbalklub oop gespeel om uiteindelik die titel met 'n uitstekende oorwinning te beklink.
In hul finale wedstryd het hulle teen die ewe gedugte Butz & Gutz te staan gekom en hul voorsprong op die punteleer met vyf ligapunte verbeter om as onteenseglike kampioene gekroon te word.
KTV het voor die finale ronde nog hoop gehad om hul titel met 'n groot oorwinning suksesvol te verdedig, maar het toe met 'n omgekrapte Supporters, wat uiteindelik die wenners was, te make gehad en moes die knie buig.
Disasters, wat deur die reeks ook goed gevaar het, het in hul finale wedstryd teen The Privates te staan gekom en kon nie 'n hasie uit die hoed pluk nie. Hulle was uiteindelik derde met The Privates in die vierde plek.
Bowling Stones, wat die vyfde plek ingeneem het, het teen Vorster Motors te staan gekom en die nuweling-span se aspirasies met 'n oorwinning in die stof laat byt.
Hierdie eerste reeks wat geen klubspelers ingesluit het nie, het onverwagse goeie rolbal opgelewer met baie van die nuwelingspanne wat baie vining gesnap en uiteindelik kompeterende spel opgedis het.
Almal is nou vuur en vlam om vroeg aanstaande jaar in die volgende reeks weer hul slag te wys en verdere ervaring op te bou.
Die besigheidsreekse word as beide spanbouers vir ondernemings en ontwikkelingsaksie vir rolbal as sport aangewend en slaag uitstekend in beide doelwitte.
Die reeks van die verlede het reeds verskeie spelers opgelewer wat by klubs aangesluit het en vandag goeie rolbal speel.
Die brekers van Skubbe, wat die Somerliga-kampioene is, is die ene glimlagte terwyl hul hul pryse van Mariaan Rheeder (links) en Cindy de Jager ontvang. Die spanlede is André Coetzer, Calla van Aardt, Johan Naude en Stef de Beer. Foto's: Kobus van Wyk
Baie ondernemings is dit ook eens dat die sosiale rolbal 'n uitstekende geleentheid bied om as spanbouaksie vir hul werknemers aan te wend en hulle op gereelde basis aan gesonde ontspanning te laat deelneem.
Sommige van die sosiale spelers word in die resessie ook gereeld saans op die rolbalbaan opgemerk waar hulle balle rol en tegnieke oefen.
Die Outeniqua-rolbalklub stel ook afrigters beskikbaar as van die spelers die fynere kunsies van die spel wil baasraak.
So het die spelers en ondersteuners fees gevier met 'n biefstuk na aflooop van die finale ronde in die Somerliga-rolbalkompetisie.
Uitslae:
1 Skubbe 66; 2 Supporters 61; 3 Disasters 59; 4 The Privates 57; 5 Bowling Stones 57; 6 Just Property 57; 7 Butz & Gutz 56; 8 JDL Printing 54; 9 Vorster Motors52; 10 Hot Stuff 52; 11 KTV 51; 12 Aces High 51; 13 Boardware 50; 14 Kommaweer Stoffeerders 48; 15 Angel's 48; 16 Ricoh 47; 17 Bruwer Reynolds Prokureurs 47; 18 Chanel Dog & Cat Parlour 45; 19 Fireballs 45; 20 Conti Kitchens 44; 21 Butterbowls 44; 22 4 Musketeers 42; 23 Bushwackers 41; 24 Seamans Renault 39; 25 Conti Granite 37; 26 Affluence Capital 34; 27 Mend a Bath 33; 28 Matopa Plumbers 28.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'