EDEN DISTRIK NUUS - Die eerste Eden-skaakproewe het op 2 Maart by Hoërskool Calitzdorp plaasgevind. Dit was een van die grootste Eden-skaakproewe nog met 'n totaal van 412 deelnemers. Die spelers uit die onderskeie streke naamlik Hessequa (Riversdal-area), Mosselbaai, George, Knysna, Oudtshoorn en Kannaland (Calitzdorp/Ladismith) het eers hulle eie streekproewe gehou en dan hulle onderskeie spanne gekies om aan die Eden-skaakproewe deel te neem, waar die spelers op 'n individuele basis teen mekaar kompeteer. Skaak van hoogstaande gehalte is gelewer.
Daar was ook die eerste keer 'n paar onder 8's wat deelgeneem het.
Die ouderdomsgroepe waarin meegeding word is o. 8, o. 10, o. 12, o. 14, o. 16, o. 18 en o. 20.
Die hoofarbiter was Hans Ottervanger, die adjunkarbiter George Swart en die res van die arbitersgroep was Azriel Johnson, Gretha Conradie, Andries Venter, Ryno Blignaut, Maurice Claassen en Terry Quirk. Die volgende proewe vind op 13 April op Mosselbaai plaas en die 3de een op 11 Mei in George. Na afloop van hierdie proewe word die Eden-span gekies wat in Januarie 2020 sal deelneem aan die Suid-Afrikaanse Junior Skaakkampioenskappe in Boksburg.
Skaak, en spesifiek skoleskaak, groei beslis in Eden. Groot dank gaan aan Tannie Poppie van Hoërskool Calitzdorp en haar groep, wat weer hulle fasiliteite beskikbaar gestel het vir die proewe, asook aan elke ouer wat hulle kinders ondersteun en in staat stel om skaak in 'n goeie gees te speel.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'