SWEM NUUS - Selfs 'n SA rekord is by die Freda Barnard-swemgala gebreek wat Sondag by die Conville swembad klaargemaak het.
Die rekord is Vrydag 6 Oktober deur Gemma Spies (11) van Uitenhage in haar ouderdomsgroep in die 100 m-vryslag opgestel.
Die jaarlikse geleentheid, aangebied deur Fish Eagles Aquatics en een van die grootste swemgeleenthede in die Wes-Kaap, het Donderdag 5 Oktober begin en het Sondag om 17:00 geëindig.
Deelnemers aan een van die items by die Freda Barnard-swemgala spook Sondag sake uit.
Dit was die 42ste keer dat dit gehou is en die tweede keer in George. Altesame 35 klubs van die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Pretoria (twee) en selfs 'n deelnemer van Bloemfontein het deelgeneem. In totaal het 573 deelnemers tussen die ouderdomme van 6 en 44 jaar in die swembad gekyk wie kan die vinnigste swem.
Aanpassings moes Saterdag gemaak word as gevolg van die reën en swem kon nie plaasvind nie.
Tarita Pollicutte, organiseerder van die geleentheid, het Maandag gesê ten spyte van die weer, wat nie altyd saamgespeel het nie, was dit 'n groot sukses.
Benewens die SA rekord is onder meer ook 18 Freda Barnard-swemrekords gebreek. Sommige van die rekords staan al sedert 2011. Volgens haar is die plan om weer aanstaande jaar die geleentheid aan te bied.
Spies het haar afrigters Samantha Barton, David Glover en Deshaan Pillay bedank vir hulle rol. Die rekord het voorheen gestaan op 1,02.27 en sy het dit verbeter na 1,02.05. Tydens die geleentheid het sy sewe goue medaljes en een silwermedalje verower. Sy het ses galarekords verbeter.
Die Freda Barnard-swemgala Sondag by die Conville-swembad.
"Ek is baie trots op myself," het sy gesê. "Dit was nie maklike weer nie." Haar doelwit is om eendag in die Olimpiese Spele te swem.
Haar ma, Sharoy het gesê sy en haar man, Barend is baie trots op hul dogter. "Haar harde werk het vrugte afgewerp."
Deelnemers aan een van die items by die Freda Barnard-swemgala spook Sondag sake uit. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’