GEORGE NUUS - Selfs 'n SA rekord is die afgelope naweek by die Freda Barnard-swemgala opgestel wat by die Conville-swembad in George gehou is.
Die rekord is deur Gemma Spies van die Infinity Swim Club in Gqeberha vir meisies 10 jaar oud in die 50 m-vryslag gebreek.
Dit was die 41ste keer dat dit gehou is en die eerste keer ooit in George. Dit het Vrydag begin en altesaam 667 swemmers het deelgeneem. Dit was 150 meer as verlede jaar. Swemmers het vanoor Suid-Afrika gekom en hul ouderdomme het gewissel van sewe jaar oud tot in die 40's. Daar was ook gestremde deelnemers.
Tarita Pollicute, sameroeper van die Eden Aquatics Swemraad en president van Fish Eagles Aquatics, het Maandag gesê die geleentheid was 'n groot sukses. Die Freda Barnard-swemgala word onder die vaandel van Fish Eagles Aquatics aangebied.
Die plan is om dit weer aanstaande jaar in George aan te bied. Sy het namens die organiseerders haar dank uitgespreek teenoor die George-munisipaliteit wat agteroor gebuig het om te help.
Volgens haar het die organiseerders geen negatiewe reaksie ontvang nie. "Almal wil volgende jaar terugkom."
Die volgende groot swemgeleentheid by dieselfde swembad is van 9 tot 13 Desember.
Dan vind die Wes-Kaap A-kampioen-skappe plaas. Dit is die eerste keer dat dit aan Eden toegeken is en dit is 'n groot eer.
Brendan Adams, burgemeesterskomiteelid vir sport van die George-stadsraad, het dit verwelkom dat die Freda Barnard-geleentheid waarskynlik weer aanstaande jaar in George aangebied gaan word.
Swemmers Sondag in aksie tydens die Freda Barnard-swemgala. Foto: Eugene Gunning
"Dis belangrik vir George in die geheel. Nie net vir toerisme nie, maar ook vir die gemeenskap."
Die topklub tydens die Freda Barnard geleentheid met die meeste punte was Blouberg Marlins van Kaapstad.
- Senior victor ludorum: (seuns 13 en ouer):Ethan Bailey van Aqua Dolphins in Kaapstad.
- Senior victrix ludorum: (meisies 13 en ouer): Zara Kleinhans van Aqua Dolphin.
- Junior victor ludorum: (seuns 12 en jonger): Khyle Hahn van Royal Swimming Academy in George.
- Junior victrix ludorum: (meisies 12 en jonger):Sienna Gous van Infinity en Erin Neumann van Generations in Somerset-Wes. Hulle het beide dieselfde punte behaal.
Swemmers Sondag in aksie tydens die Freda Barnard-swemgala.
Swemmers in aksie tydens die Freda Barnard-swemgala.
Talle toeskouers het swemmers aangemoedig tydens die geleentheid.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'