GEORGE ROLBALNUUS - Die Outeniqua-rolbalklub het die dinamiese bestuurspan, wat veral in die moeilike grendeltyd hul staal getoon het, onbestrede behou vir die komende fiskale jaar.
Terwyl ander sportklubs landwyd gesukkel het om in die tyd te oorleef, het hierdie klub die blaaskans benut om aansienlike uitbreidings en verbeterings aan die bane en klubhuis te maak. Die klub spog nou met moderne fasiliteite wat lidmaatskapgroei tot ver in die toekoms kan akkommodeer.
Addisionele watertenks is ook aangebring wat die klub teen langdurige droogtes kan staal en die afhanklikheid van munisipale water sal minimaliseer.
Die bestuurspan wat die klub se sake in die komende termyn sal bestuur is Greg Young (president), John Dampier (visepresident), Japie Combrink (sekretaris), Phillip Hattingh (tesourier) en Anri Fick (kompetisiesekretaris). Die addisionele lede is Alhan van der Merwe, Christelle Griebenouw en Bokkie Coertze.
'n Totaal van 35 lede het die vergadering bygewoon met verskeie ander lede wat die verrigtinge op Zoom gevolg het.
Tydens die vergadering is 'n verhoging van net R30 in die jaarlikse lidmaatskapsfooi eenparig aanvaar. Die jaarlikse fooi is nou R1 000 wat die Eden en Rolbal SA se affiliasiefooie ook insluit. Die klub doen ook weg met baanfooie en al die ander fooie, wat deel van die lidmaatskapsfooi uitmaak, bly onveranderd. Dit was duidelik dat hierdie 'n welkome meevaller vir die klublede is.
Die bestuurspan van die Outeniqua-rolbalklub. Van links: Alhan van der Merwe, John Dampier, Greg Young, Christelle Griebenouw, Anri Fick, Japie Combrink en Bokkie Coertze. Afwesig: Phillip Hattingh.
Die afgetrede George Herald-redaksielid en huidige vryskutjoernalis, Jannie Meyer, is tydens die vergadering met lewenslange erelidmaatskap vereer vir die diens wat hy oor baie jare aan rolbal in die algemeen en die Outeniqua-klub spesifiek gelewer het. Hy het na die vergadering gesê dat hy baie dankbaar is om op hierdie wyse deur so 'n dinamiese klub vereer te word en die toekenning beskeie aanvaar.
Die klub se hekke is verlede naweek weer ontgrendel toe 'n groot aantal lede dadelik begin rol het. Die beperkings is onder andere dat net enkels en dubbelspel toegelaat word sodat spelers 'n veilige afstand van mekaar op die baan kan handhaaf.
Die klub is ook gretig om nuwe spelers te verwelkom en nooi veral jonger spelers om die spel op die proef te stel. Voornemende spelers is welkom om hulself by die klub aan te meld en meer oor die sport en die klub te wete te kom. Daar word ook voorsiening gemaak vir sosiale lede wat nie noodwendig wil speel nie, maar deel van die klub wil wees.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'