Dr. Gerhard Marx, bekende oud-Kwagga (1990), het dié bekendstelling van die Kwagga Sportontwikkelingsfonds (KSOF) tydens 'n sake-ontbyt op Saterdag 22 Februarie aan die skool en gemeenskap gedoen.
Marx het gesê dat dié niewinsgewende maatskappy twee doelwitte het, naamlik die ontwikkeling van al die sportkodes by Hoërskool Outeniqua en die mobilisering van oudleerders en Kwagga-ouers. Hy het genoem dat die KSOF se doelwitte inskakel by die skool se visie om verbintenisse met oudleerders, oudonder-wysers en ouers te versterk.
Die direksie van die KSOF bestaan tans uit drie lede naamlik, dr. Marx, Gerdie Smook en Anton Nel. Rodney Koen, Quintus Williamson, Marco Wentzel en Jaco Colyn tree as konsultante op.
Marx het gesê dat hulle die beginsel van selfontwikkeling en eienaarskap baie sterk ondersteun. Alle rolspelers soos afrigters, spelers en ouers moet by 'n sportsoort aktief betrokke raak om die sport uit te bou. Sportsoorte moet nie net fokus op die wenmotief nie, maar ook op die kweek van gesonde waardes en houdings. Om dit te ondersteun het die direksie besluit om 'n trofee, in die vorm van 'n skaaf, vir elke sport te skenk. Die span moet aan 'n aantal kriteria voldoen om vir hierdie trofee te kwalifiseer, wat nie net met wen en verloor te doen het nie.
Die bekende rugbyafrigter Abrie Minnie (1985) is in 2014 by sy alma mater aangestel as sportontwikkelingshoof met die opdrag om elke sportsoort tot die vlak van uitnemendheid in die skool te ontwikkel. Minnie het gesê dat hy daarop gaan fokus om die vaardigheids- en kondisioneringsvlakke van spelers tot die hoogste vlak te ontwikkel. Verder is dit ook sy taak om by elke sportsoort 'n ondersteuningsbasis te skep om die sportsoort so te ondersteun dat die gestelde teikens bereik kan word.
Marx het genoem dat die Hoërskool Oute-niqua 'n kernrol gespeel het in die vorming en slyping van elkeen van sy oudleerders. Daarom het hulle gevoel om terug te ploeg in die skool om te verseker dat die wonderlike tradisies en prestasies van die skool gehandhaaf en verder uitgebou word. Die KSOF het ook hul gewig agter die sportontwikkelings-plan van Minnie gegooi en onderneem om sekere aspekte daarvan te finansier.
Oud-Kwaggas, Kwaggas en ouers wat deel wil raak van die KSOF of meer wil weet van die werking daarvan, kan gerus die direksie kontak by: info@kwaggasport.co.za en faks 086 662 0372. Of skakel 083 302 3356 /085 607 8335.
By die bekendstelling van 'n Kwagga-sportontwikkelingsfonds (KSOF) was, van links: Chris Hattingh (adjunkhoof), Morné Gericke (oudleerder), Rodney Koen (konsultant: KSOF), Christo Vorster (skoolhoof), Scholtz Bruwer (voorstitter van beheerliggaam), Frederick de Swardt (oudleerder), Gerdie Smook (direksielid: KSOF), Abrie Minnie (sportontwikkelingshoof) en dr. Gerhard Marx (hoof-uitvoerende beampte: KSOF).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'