GEORGE NUUS - 'n Oud-Kwagga en haar broer, albei lede van die Garden Route-uithouritklub, het in Fauresmith by die grootste perde-uithourit in Suid-Afrika uitgeblink.
Die 19-jarige Lara le Roux en haar broer, Nico-Meyer (21), 'n oudleerder van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn het onderskeidelik die liggewig- en standaardafdeling gewen en algeheel die eerste en tweede plek behaal.
Hulle het vir die Westelike Provinsie deelgeneem aan dié driedaagse uithourit oor 205 km waaraan 'n raps net oor die 300 perde in baie koue weer weggespring het.
Die temperatuur op die eerste twee oggende was 'n snerpende -4,5 grade toe eerste perde weggespring het.
Lara en haar reunperd Koringkloof Fadjur en Nico-Meyer en sy reunperd Welbech Jamal het albei 'n gemiddelde spoed van 25,4 km/h gehandhaaf.
Nico-Meyer was altesame 8 uur 6 min en 36 sek in die saal en Lara 8 uur 6 min en 47 sek.
Nico-Meyer het verlede jaar ook die standaardafdeling op die reunperd Country Boy gewen. Hy het ook in 2015 in die tweede jaar van sy deelname aan dié uithourit, 'n algehele eerste plek behaal as junior ruiter en hy was ook algeheel eerste. In die proses het hy die senior en junior rekord, wat al 18 jaar in die boeke gestaan het, gebreek.
Nico-Meyer het toe sy Springbokkleure verwerf. Vanjaar het hy sy senior Springbok-erekleure vir sy tweede plek by die SA internasionale kompetisie by Bona Bona gekry.
Lara het ook in 2016 in die junior afdeling geseëvier en 'n algehele eerste plek verower. Sy het ook haar Protea-kleure in 2016 verwerf toe sy vir die SA span teen Namibië in Walvisbaai deelgeneem het.
Sy het ook vanjaar by die SA kampioenskappe by Bona Bona haar senior Springbok-kleure verwerf.
Lara het in 2018 by Hoërskool Outeniqua gematrikuleer en Nico-Mey in 2016 by Langenhoven Gimnasium.
Albei word deur hul pa, Meyer, afgerig. Hul ouers boer in die Kammanassie naby Uniondale.
Die 19-jarige Lara le Roux, 'n oudleerder van Hoërskool Outeniqua, het op Fauresmith by die grootste perde uithouritwedren in Suid-Afrika die liggewigafdeling gewen. Sy was ook algeheel tweede.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'