Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Vir die eerste keer in Olympia Vaardigheidskool in Pacaltsdorp se 21-jarige bestaan kan die skool nou spog met behoorlike netbalbane. Die glimlagte op leerders en onderwysers se gesigte met die inwyding op Vrydagmiddag, 6 Mei, het alles vertel.
Wat vir netbalspelers by baie ander skole 'n alledaagse is, was tot voor Vrydag vir netbalspelers by dié skool nie beskore nie. As deel van die inwyding het twee personeelspanne in 'n vriendskaplike wedstryd teen mekaar gespeel.
Gerhard Haupt, hoof van die skool, het die ingebruikneming as 'n historiese geleentheid beskryf.
"Na 21 jaar kan die skool sê hy het ook 'n netbalbaan," het Haupt gesê.
Danksy die inisiatiewe en deursettings-vermoë van verskeie mense, veral Stanley Kruger, kon die bane gebou word. Kruger is 'n voormalige hoof van sport by die skool en hy was ook die projekbestuurder.
Groot droom
Toe die skool begin het was daar ook nie tennisbane nie. Dit was altyd die skool se droom om 'n netbalbaan vir die dogters te bou. Elke keer as die dogters netbal wou oefen en speel, moes hulle na bane buite die skool gaan.
In 'n stadium het Kruger vir hom gesê hulle moet 'n plan maak. Volgens Haupt moet 'n mens nooit sê jou drome kan nie waar word nie. Jy moet ook nie klein droom nie. Jy moet groot droom. Kruger het uitgegaan en mense gekry wat bereid was om te help met die vestiging van die bane.
VIDEO: Olympia Vaardigheidskool kry splinternuwe netbalbane
Hulp en borge
Toe Kruger in 2013 hy by die skool begin het, was daar nie netbalbane nie. Hy het gesien daar is 'n behoefte en het hom toe begin beywer vir die vestiging van die bane.
Hy het onder meer vir Peter Greyling van Much Asphalt genader. Hy het betrokke geraak en hy het al die teer geskenk.
Die terrein is langs die rugbyvelde en dit moes eers skoongemaak word. Die Garden Route-distriksmunisipaliteit is genader en Memory Booysen, die burgemeester, het personeel beskikbaar gestel om te help. Hulle help gewoonlik met paaie en het kom help om die teer te gooi. Johan Scholtz van Volmoed Quarries, Oudtshoorn, het ook gehelp en stene geskenk wat vir die afronding gebruik is.
Kruger het benadruk dat sonder die hulp van die borge en die distriksmunisipaliteit sou dit nie moontlik gewees het nie.
"Die eerste keer in die geskiedenis van die skool is daar nou twee volledige netbalbane."
Volgens hom is dit 'n reusehupstoot vir sport by die skool. Die skool het sowat 40 dogters wat netbal speel.
Altesaam vyf van die skool se spelers is onlangs in die SWD LSEN-netbalspan opgeneem.
Personeel van die Olympia Vaardigheidskool speel in 'n vriendskaplike netbalwedstryd teen mekaar. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'