GEORGE NUUS - Vir een van Suid-Afrika se bekendste junior atlete, Antonio Farmer, wag 'n nuwe hoofstuk in sy lewe. Hy is die afgelope drie jaar die Junior SA stapkampioen in die 10 km en van volgende jaar moet hy deelneem in die senior afdeling waar hy gaan stap in die 20 km.
Farmer, wat sy skoolloopbaan verlede jaar in George voltooi het en deesdae onderwys studeer aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, kuier op die oomblik by sy familie.
Hy vier Saterdag 21 Desember sy 19de verjaarsdag saam met sy familie en vriende. In Januarie keer hy terug Potchefstroom toe vir die nuwe hoofstuk in sy lewe.
As junior het Farmer Suid-Afrika reeds twee keer in die buiteland verteenwoordig. Sy mikpunt vir aanstaande jaar is om sy voete in die 20 km te vind en sy tye te verbeter. Sy uiteindelike mikpunt is om Suid-Afrika te verteenwoordig in die 20 km stap by die Parys Olimpiese Spele in 2024.
Volgens Farmer is stap baie tegnies en hy oefen hard.
Hy oefen gewoonlik ses dae per week. Dit behels twee oefensessies per dag van altesaam vyf ure. Gemiddeld stap hy tussen 70 en 90 km elke week.
Hy geniet die stap en dit meng nie in met sy onderwysstudies nie.
Die oefenry kan by tye eensaam wees, maar in Potchefstroom het hy 'n hy goeie stap-ondersteuningstelsel. Die feit dat hy 'n baie gebalanseerde leefstyl leef, help baie. Dit verg dissipline.
Al is dit vakansie, oefen hy steeds en moet dus nie verbaas wees om hom in dié dae op die paaie van George te sien nie.
Sy familie is sy grootste ondersteuners. Hy verwys onder meer na sy ma, Berenice Humphrey-Farmer en sy stiefpa, Jan Galant.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'