GEORGE NUUS - 'n Erelid van Outeniqua Harriers-hardloopklub, oom Sampie Bezuidenhout (75), het sy klippie op die hoop gegooi by die splinternuwe naambord wat na hom vernoem is, 'Sampie se hoogte' - 'n baken vir menigte fietsryers op dié kontoerpaadjie, sowat 2 km van Arbourweg se ingang.
Oom Sampie het saam met lede van Hillbillies-fietsryklub die hoogte uitgestap met die onthulling van die naambord verlede Maandag, 11 Maart.
"Dit was 'n groot voorreg, en nogal emosioneel. 'n Mens dink die sportgemeenskap het al van jou vergeet. Hierdie beteken vir my so baie," het hy gesê.
Dit is 'n stywe stappie tot by die hoogte, en is 'n gewilde roete vir bergfietsryers. Ofskoon die roete jare gelede deur veral landlopers benut is, het dit oor die jare 'n speelplek vir fietsryers geword.
Hillbillies se voorsitter, Braam Pretorius, en Richard Muller, 'n komiteelid, het die nuwe naambord opgerig, met die hulp van SP Dreyer van Infinity Laser wat die bord gemaak het. "Ons het gedink 'n nuwe bordjie is 'n uitstekende manier om almal wat die kontoerpad gebruik bymekaar te snoer," het Hillbillies se ondervoorsitter, Anél Strampe, gesê.
Die kontoerpaadjie na 'Sampie se hoogte' is een van die eerste fietsryplekke waarheen Strampe en haar vriende fietsgery het na haar aankoms in George 'n paar jaar gelede.
"Dit is altyd so 'n lekker baken wanneer jy vir iemand wil verduidelik waar om mekaar te kry," het sy gesê. "Destyds was daar 'n bordjie op wat sê: 'Sampie se hoogte', maar dit het op 'n stadium verdwyn."
Dit is 'n gewilde roete vir bergfietsryers. Jeanluc Hartzenberg (15) is 'n regte rakker op sy bergfiets. Hy het die onthulling van die naambordjie Maandag 11 Maart saam met sy pa, Hanno, en broer Logan (11), bygewoon. Foto: Deidre Cloete
Sy het vertel dat sy oom Sampie verlede jaar tydens 'n rolbalfunksie ontmoet het. "Hy het sy storie met my gedeel, en was nogal ontsteld omdat sy bordjie nie meer daar was nie. Hy het nie besef hoe ongelooflik dit vir my was om hom te ontmoet nie, hy is soos 'n celebrity. Ek het 'n selfie saam met hom geneem en vir my fietsryvriende gestuur.
"Op een van die Hillbillies-vergaderings het ons gesoek na iemand om te gesels tydens 'n geleentheid - 'n groot gees in die gemeenskap. Ek het oom Sampie se naam genoem, en die feit dat ek so bitter graag weer 'n bordjie vir hom wil opsit. Oom Sampie het na ons algemene jaarvergadering gekom, maar hou nie van praat nie. Hy is baie skaam. Hy het 'n handgeskrewe verhaal gestuur."
Oom Sampie se verhaal
Legendariese marathonatleet, Sampie Bezuidenhout (75), skryf in 'n brief aan Hillbillies-fietsryklub hoe dié spesifieke plek op die kontoerpaadjie bo Arbourweg, sowat 2 km op in die berg, na hom vernoem is:
Op 11 Desember 1982 het lede van Outeniqua Harriers 'n 21 km halfmarathon-roete met 'n voertuig afgemeet. Die roete is drie keer gery waarna die gemiddeld van die aantal kilometers bereken word om die merkers te plaas.
Op 'n sekere plek het ek 'n groot klip geplaas. Elke keer het ek daar gerus om water af te slaan terwyl 'n voertuig my gevolg het.
Hierna was dit ons oefenroete. Op hierdie deel van die pad het ek my spoedwerk saam met my spanmaats gedoen. Meestal van onder af na bo.
Aangesien ek vinniger as hulle was, moes ek by Sampie se hoogte vir hulle wag. In dié tyd het ek broek "losgemaak" - daarna het ek sommer baie ligter gevoel!
Daarna het dit 'n instelling geword dat elkeen wat daar verby draf 'n klippie moet neersit. Die [destydse] Sampie se hoogte-bord is opgerig deur 'n spanmaat wat 'n bosbouer was.
Oom Sampie Bezuidenhout (75) gooi sy klippie op die hoop by die splinternuwe naambord. Foto: Deidre Cloete
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’