GEORGE NUUS - 'n Nuwe generasie van jong bergklimmers is besig om te ontwaak in een van die land se mees natuurlike speelterreine.
Die kilometers van stap- en fietsryroetes sorg dat dié ywerige sportmense en hul families gereeld nuwe dele van George se berge ontdek. Kinders ontdek nie net 'n liefde vir avontuur nie, maar ook vir die natuur.
Ruben van Molendorff (9) is een van die menigte nuwe bergklimmers wat die sewe pieke van die Outeniquaberge die afgelope jaar verower het - dit ten spyte van sy hoogtevrees.
Volgens sy ma, Marelise, was Ruben nog altyd gefassineer deur wolkekrabbers, waarvan die Burj Khalifa sy geliefkoosde is. "Met die stappery het dieselfde liefde hom gelok om bergpieke te begin uitklim om die wêreld uit 'n ander oogpunt te kan sien," sê sy.
Ruben is ook 'n kranige geoskatte-jagter (geocacher).
Sy ma vertel dat Ruben en sy tweeling boetie, Marko, van kleins af staproetes begin doen het. "Die liefde vir stap en die natuur is gekweek deur hul bloot te stel aan die afstand volgens hul ouderdom en stelselmatig op te bou.
"Die rustigheid van die natuur en ontdekking van nuwe roetes het gesorg vir 'n kostelose speelpark en tydverdryf vir gesinne. Kweek die liefde van kleins af by die kinders en ons sal trots wees met die hoogtes wat hul kan bereik," sê sy.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'