TUINROETE NUUS - Uitdagend, fisies, geestelik en in die algemeen uiters moeilik, maar tembaar. Dit is hoe die organiseerders ‘n nuwe bergfietswedsren in die Tuinroete, die Jakkalberry 100 miler, beskryf. Luidens ‘n verklaring van die organiseerders wat Donderdag (30 September) uitgereik is sal dit vanjaar op 17 Desember plaasvind.
Registrasies is oop en spanne van 2 of 4 kan inskryf.
Die ren word deur die Vryburgers van George aangebied ten bate van die nasionale projek, “Kos vir Kinders.” Alle fondse word gebruik om skole met voedingsprojekte te ondersteun sodat kinders ‘n kospakkie by die skool kan ontvang. Ongeveer 300 kinders word tans so gehelp.
Die beplanning was om ‘n nagren aan te bied, maar die aandklokreël dwing ‘n dagren af. Volgens protokol kan slegs 500 ryers geakkommodeer word.
Die ren begin by die bekende wynkelder Jakkalsvlei en eindig 164 km later by die bekende Redberry-aarbeiplaas in George. Die roete tussen hierdie bekende uitvoerprodukte van die Tuinroete is vasgestel deur Gerrie Beukes, internasionaal bekende in die bergfietsrykringe. “Dit sal elke ryer tot die uiterste beproef. Jy moet hom weer en weer wil ry, want elke jaar sal ‘n verskillende ervaring wees.”
Die roete is spesifiek gekies sodat die ryers ‘n ervaring sal geniet op agterpaaie wat nie gewoonlik vir die publiek beskikbaar is nie. Die feit dat die ren dalk in die nag, onder ‘n volmaan kan plaasvind, beklemtoon die uniekheid daarvan.
Elke ryer sal ‘n geskenkpakkie ontvang met vyf waterpunte op die roete om eet- en drinkvoorraad aan te vul. Die waterpunte word aangebied deur die skole wat fondse ontvang.
Die breinkind is die produk van Hanno Maritz, ‘n lid van die George Vryburgers. Die pandemie en grendeltyd het die diensorganisasies verhoed om projekte soos in die verlede te loots. Dus, moes daar nuut gedink word. In die proses het verskillende nuwe projekte die lig gesien: ‘n Witolifanttafel, groentetuine vir volhoubaarheid, Veerlose Vlerke en die bergfietsren.
Goeie pizza en lekker wyn kan by die beginpunt genuttig word deur almal wat die ryers vergesel. Die volgende oggend en middag, wag ‘n heerlike ontbyt, middagete en heelwat aktiwiteite op die gesin soos daar vir die ryers gewag word.
Gebruik die skakel om in te skryf.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'