SPORTNUUS - Sewe goue medaljes, twee wêreldrekords en ’n gesogte internasionale toekenning gaan aan Minke Janse van Rensburg, terwyl Lochner Bekker op 32-jarige ouderdom bewys het dis die moeite werd om jou drome na te jaag.
Hierdie twee swemmers van George het die Suid-Afrikaanse vlag hoog laat wapper tydens die 12de Downsindroom-wêreldswemkampioenskap in Albufeira, Portugal, wat van 30 Oktober tot 7 November plaasgevind het.
Minke (22) het met ’n skitterende vertoning sewe goue medaljes ingepalm, twee opewêreldrekords opgestel en boonop die gesogte titel as beste vroueswemmer van die kampioenskap verower.
Haar swemmaat, Lochner, het op sy beurt uitstekend tydens sy heel eerste wêreldkampioenskap gevaar, met twee plekke onder die voorste vyf.
Albei swemmers oefen by die Garden Route-swemskool onder leiding van Franna en Joshua Vorster en verteenwoordig Fish Eagle Aquatics. Die swemskool en klub het hul trots uitgespreek en dié prestasies as ’n besondere hoogtepunt vir plaaslike swem beskryf.
Die Suid-Afrikaanse span: Lochner Bekker (George), Savanna Haselau (Howick, KZN), Minke Janse van Rensburg (George), Zora Wegerif (Johannesburg), Amelie du Plessis (Pretoria) en Lorenzo Cazzavillan (Johannesburg). Die Suid-Afrikaanse span het ook ’n silwer medalje in die vroue se 4x100 m-wisselslagaflos gewen.
Nuwe opewêreldrekords
“Minke was feitlik onstuitbaar in die swembad,” het haar pa, Hennie, opgemerk. Sy het nuwe opewêreldrekords in die 100 m-vryslag en 100 m- individuele wisselslag opgestel, en haar teenstanders in verskeie items oortuigend uitgestof.
In die 50 m-vryslag het sy met 3,26 sek. gewen, in die 100 m-vryslag met 5,65 sek. en in die 200 m-vryslag met ’n verstommende 9,56 sek. Sy het ook die 50 m-vlinderslag met 2,18 sek. gewen.
Een van die hoogtepunte was haar naelbytsege in die 100 m- individuele wisselslag. Met net 25 m oor was Minke nog agter haar teenstander, maar sy het alles in die laaste vryslaglengte gegee, verbygesnel en met ’n breukdeel van ’n sekonde eerste aan die muur geraak. Met dié sege is ’n nuwe opewêreldrekord opgestel.
Minke hou nou nege individuele opewêreldrekords, asook ’n wêreldrekord wat sy as lid van ’n Suid-Afrikaanse vroueaflosspan opgestel het.
Lochner maak sy merk
Hoewel Lochner se swemloopbaan eers later in sy lewe begin het, het hy tydens sy eerste wêreldkampioenskap gewys dat hy sy plek tussen die wêreld se beste swemmers verdien.
Hy het ’n vierde plek in die 50 m-rugslag behaal en vyfde in die 50 m-vryslag geëindig.
Volgens Franna Vorster van die Garden Route-swemskool het Lochner ook met sy aansteeklike entoesiasme, vriendelikheid en uitstekende sportmanskap beïndruk. Sy positiewe ingesteldheid het hom ’n gewilde lid van die Suid-Afrikaanse span gemaak en die harte van toeskouers gewen.
Lochner in aksie.
Minke geniet haar oomblik van glorie in Portugal.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’