TEATERNUUS - Die plaaslike produksie van die wêreldbekende musiekblyspel Chicago het die gehore behoorlik gaande gehad en opnuut bewys dat amateurteater van wêreldgehalte kan wees.
Die produksie, wat oor twee weke in verskeie middag- en aandvertonings by die George-kunsteteater aangebied is, was reeds lank voor die openingsaand uitverkoop. En dit is nie moeilik om te verstaan waarom nie. Die kwaliteit van die kostuums, toneelspel, sang en dansitems maak Chicago een van die beste produksies wat nog op dié teater se planke gebring is.
"Dit is asof elke rol vir die akteurs individueel geskep is; hulle was sulke goeie pasmaats," het een teaterganger gesê.
Wat die prestasie soveel merkwaardiger maak is dat die rolverdeling grootliks uit amateurkunstenaars bestaan - mense wat bedags hul gewone beroepe beoefen en saans hul harte en siele in die teater uitstort.
Hoewel sommige deelnemers professionele ervaring in onder meer dans en die uitvoerende kunste het, kon die produksie as geheel met dié van menige professionele teatergeselskap meeding.
Lindi Joe Joubert as Roxie Hart in die hoofrol.
Verskeie teatergangers het ná afloop van die vertoning verlede Vrydagaand, 6 November, opgemerk dat hulle nog nooit 'n plaaslike produksie van só 'n hoë gehalte gesien het nie.
Vir die regisseur, Sian Hitchner, was dié produksie 'n jare lange droom wat met harde werk, toewyding en talle opofferings uiteindelik gestalte aangeneem het. Sy reken dit was verseker die moeite werd.
"Hoewel Chicago in die 1920's afspeel, is dit vandag meer relevant as ooit," het sy gesê.
"Dit beeld 'n wêreld uit waarin roem belangriker as die waarheid is, geregtigheid in vermaak verander en diegene wat die hardste skree se weergawe van die storie seëvier. 'n Eeu later het net die opskrifte verander."
Quintin van Biljon as Billy Flynn, omring deur pragtige vroue en vere. Foto's: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’