GEORGE NUUS - Ná 40 jaar in die onderwys het Anneke Oosthuysen, Engels-onderwyser aan die Hoër Tegniese Skool Eden (HTS Eden), onlangs haar laaste buiging gemaak. Hoewel sy die klaskamer groet, is haar passie vir onderwys en gemeenskapsontwikkeling nog lank nie uitgeput nie.
Oosthuysen het op Stellenbosch grootgeword in 'n gesin waar onderwys deel van die daaglikse lewe was. Haar pa was by die universiteit betrokke en haar ma was 'n onderwyseres by die skool vir blindes. Hier het haar liefde vir onderwys ontstaan.
Sy het haar loopbaan in die Oos-Kaap begin voordat sy by die destydse PW Botha-skool, vandag HTS Eden, aangesluit het. Die skool het toe sowat 400 leerders gehad. Sedertdien het sy die skool se groei, veranderende leerderdemografie en ontwikkeling van sy tegniese werkswinkels beleef.
Vir Oosthuysen was die onderrig van Engels nie bloot die oordra van kennis nie. Hoewel sy Engels op huistaalvlak aangebied het, was baie van haar leerders in werklikheid tweedetaalsprekers.
"Taal en literatuur vorm die wortels van kommunikasie. Dit gaan oor meer as net feite. Dit maak die deur vir interaksie oop, en die interaksie tussen mense is kosbaar."
Volgens haar gaan kommunikasie nie net oor wat uit jou mond kom nie, maar ook oor wat in jou gedagtes en, belangriker nog, in jou hart leef.
Sy glo 'n onderwyser se nalatenskap word nie op papier gemeet nie, maar in die lewens van leerders.
Onder haar kosbaarste herinneringe tel kultuurtoere na Kaapstad se teaters, Distrik Ses en Robbeneiland.
Oosthuysen het ook op die provinsiale en nasionale uitvoerende komitees van die onderwysvakbond Nasionale Professionele Onderwysersorganisasie van Suid-Afrika (Naptosa) gedien. Onderwysontwikkeling, skoolveiligheid en onderwysers se welstand lê haar na aan die hart.
Sy meen onderwysers moet na hulself omsien om na ander te kan omsien. Hulle staar geweldige uitdagings in die gesig, waaronder middelafhanklikheid onder leerders, die gebruik van selfone en kunsmatige intelligensie, gemeenskapsgeweld en afknouery.
Tog glo sy dat daar steeds baie goeie werk in die onderwys gedoen kan word. Sy is trots daarop dat HTS Eden leerders vir die werkswêreld voorberei deur hulle te leer dink, beplan en uitvoer.
'n Nuwe hoofstuk
Stilsit is nie in Oosthuysen se aard nie. Sy beplan om as geassosieerde lid by Naptosa betrokke te bly en haar betrokkenheid saam met Gerda Stolz by die Tolhuis voort te sit.
Sy sien ook uit na tuinmaak, haar betrokkenheid by die DBV en Oudtshoorn Dogs in Need (Odin), en tyd om bloot 'n boek te lees en na die groen grassies te kyk. Blommerangskikking is nóg 'n groot liefde, en sy het reeds by die plaaslike blommeklub aangesluit.
Nog iets wat haar na aan die hart lê is die jaarlikse Kersmark by die NG Moederkerk, waarby sy reeds die afgelope 30 jaar betrokke is. Dit verskaf haar groot vreugde, en sy sien daarna uit om dié betrokkenheid voort te sit.
Anneke Oosthuysen. Foto: Verskaf
"Ek wil die innerlike vrede wat my deur al die jare in die onderwys staande gehou het, nou op 'n ander manier ervaar. Ek het nou die tyd en geleentheid om al die mooi om my selfs meer te geniet en te beleef."
In sy afskeidsboodskap het HTS Eden haar bedank vir vier dekades se toewyding en die manier waarop sy literatuur vir leerders laat lewe het.
Die skool se afskeidsgroet was gepas: "Ms Oosthuysen, we give you a standing ovation!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’