GEORGE NUUS - Dis mos malligheid man. Ek weet nie wat my besiel het nie.
Só het Matthys Beukes die Lockdown1000-uithourit beskryf wat hy verlede week op sy erf aangepak het om geld in te samel vir mense wat weens die Covid-19-pandemie swaarkry.
Beukes, wat professioneel vir die PYGA Euro Steel-span jaag en homself al verskeie kere as een van Suid-Afrika se beste bergfietsryers bewys het, het die 1 000 km oor vyf dae voltooi en altesame R130 000 ingesamel. Dis 'n fenomenale prestasie om dié afstand in 'n eentonige kort roete om jou huis te voltooi.
"Jy moet simpel wees om so iets aan te pak," het Beukes in 'n telefoniese onderhoud met George Herald gesê. "Jy móét rêrig mal wees om só iets te doen."
Die 1 000 km-roete is die afstand van George na Langebaan aan die Weskus en weer terug.
Skaars drie weke gelede het Beukes vir 24 uur om sy huis getrap en sowat 255 kilometers afgelê.
"Die ongelooflike ondersteuning wat ek van mense van heinde en ver gekry het, het my weer aangespoor om die malligheid aan te pak. Ek het nie besef hoeveel mense deur die eerste uithourit geïnspireer is nie. Hulle het dit waardeer en dit het my weer aangevuur om iets te doen om mense in nood te help.
"Ek is doodeerlik: ek het aanvanklik gedink ek wil nie weer so iets doen nie, maar diep binne in my gevoel ek móét dit doen. Dit sal weer help om baie mense, wat almal nou ingeperk word, te inspireer."
Die bergfietsmaestro Matthys Beukes by sy vrou, MIchelle, en dogtertjie, Annabel.
Beukes sê die roete was korter as dié een wat hy tydens die 24-uur rit gevolg het, maar darem vinniger.
"Wat baie gehelp het was toe ons na vlak 4 oorskakel en ek buite my erf binne 'n 5 km-radius van my huis af kon ry. Natuurlik ook net soggens tussen 06:00 en 09:00, maar dit het die eentonigheid van my erfroete effe weggeneem."
Sy Lockdown1000 het verlede Dinsdag begin en Saterdag ten einde geloop. "Was dit nie vir die ongelooflike ondersteuning van mense in my woonbuurt nie, sou ek beslis nie dié 1 000 km gemaak het nie. My vrou, Michelle, en my dogtertjie, Annabel, was my wonderlike ondersteuningspan op die erf. Buite het die bure plakkate rondgeswaai en hande geklap om my aan te moedig."
Robyn de Groot, een van Suid-Afrika se voorste bergfietsryers, het ook met 'n plakkaat opgedaag wat gelui het: "Keep going Matthys."
"Dié mense het die onmoontlike moontlik gemaak. Daar is regtig geen manier waarop ek die 1 000 km sonder dié ondersteuning kon doen nie."
Beukes sê hy het nie aanvanklik beplan om die afstand te ry nie. "En nadat dit die vorige naweek goed gereën het en die grond redelik nat was, het ek sowat 60 km in gedagte gehad. Maar hoe meer ondersteuning ek gekry het, het meer het my motivering gestyg om vas te byt en aan te hou trap.
Matthys Beukes het behoorlik 'n modderpad op sy grasperk uitgery tydens sy Lockdown1000-uithourit waarmee hy geld vir minderbevoorregtes ingesamel het.
"My doel was net om so gou as moontlik klaar te maak. Maar ná die 60 km het ek my fokus na 100 km verskuif, toe na die Attakwas (121 km) en so het dit aangehou."
Beukes sê by die 400 km-merk het hy gedink hy gaan dit nie maak nie.
En toe hy 600 km haal, het hy besluit dis nou klaar.
"Ek moes nog net die mense en borge laat weet ek gaan die handdoek ingooi. Trouens, ek het vir myself gesê dis oraait om soms nie die beste te wees en jou doelwit te haal nie. Maar dis elke keer die mense wat my gemotiveer en aangepor het. Wie kan met sulke ondersteuning ophou?"
In die vyf dae het hy altesame 12 ure slaap ingekry.
"As ek kort-kort ingeglip het huis toe om iets te gaan eet en drink, het ek 'n vinnige 20 minute geslaap. My langste slaap was sowat vier uur."
Die eerste drie dae was soos 'n nagmerrie waaruit hy nie kon ontsnap nie, sê hy. "Ek is bly oor die geld wat vir minderbevoorregtes ingesamel is.
"Maar die gróót doel met die oefening was om te wys dat niks onmoontlik is as mens saamstaan in moeilike tye soos nou met die inperking nie."
PYGA Euro Steel het met NIKA Capital en HE Fund saamgespan om geld in te samel vir kospakkies vir families wat deur
die landwye inperking geraak is.
Die HE Fund gaan die kospakkies landwyd aan behoeftiges versprei.
Matthys Beukes het behoorlik 'n modderpad op sy grasperk uitgery tydens sy Lockdown1000-uithourit waarmee hy geld vir minderbevoorregtes ingesamel het.
Bly dat hy ná vyf dae in die saal 'n moordende 1000 km-skof om sy huis voltooi het. Maar steeds met 'n glimlag vir die kamera.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'