GEORGE ROLBAL NUUS - Vir die eerste keer in 32 jaar kon 'n mansrolbalspan van George vanjaar weer die Plaat-trofee omhoog hou in die hoogs kompeterende All Cape-toernooi wat in Oos-Londen gespeel is.
Die All Cape, waaraan spanne vanoor die hele land deelneem, is verreweg die grootste rolbaltoernooi vir klubspanne en lok elke keer deelnemers vanuit alle uithoeke in die land.
Die span van Outeniqua-rolbalklub, wat vanjaar met die plaat-trofee teruggekeer het, het uit Attie Nortje, Jape Combrink, Alhan van der Merwe en Morné Lamprecht bestaan.
Die span van George-rolbalklub, wat die trofee in 1986 laas gewen het, het ook met 'n Van der Merwe-faktor gespog. Die Wes-Kaapse sportlegende Akker, vader van Alhan van der Merwe, se ander spanlede was Evert Goussard, Neil Laubscher en Fanie Muller.
Outeniqua-rolbalklub spog ook met die prestasie dat drie van sy manspanne die uitspeelrondes bereik het. Ongelukkig vir hulle het die loot bepaal dat hulle teen mekaar moes uitspeel.
In die eerste uitspeelstryd teen 'n mede-klubspan het Nortje se span teen die van Bennie van Loggerenberg met Terrence Wilson, George Fick en Pierre Stander as spanlede te staan gekom en met 32-6 gewen.
In die ander uitspeelstryd moes Nortje se span die Outeniqua-span van Greg Young met Das Barnard, Gillie Geldenhuys en Johan Fernhoudt aandurf nadat hulle eers 'n span van Colesberg met 24-12 verslaan het. By die laaste kop was Young se span met
3 punte voor, maar Nortjie het met briljante spel sy span se bas gered wat 'n gelykop-uitslag bewerkstellig het. Nog 'n addisionele kop moes gespeel word toe die Nortje-manne die knoop deurgehak het.
In die eindstryd was dit Nortje en sy span wat 'n gedugte span van Durbanville moes aandurf. In hierdie stryd het die Outeniqua-span weer uitstekend gevaar en die plaat-trofee gemaklik met 19-12 gewen.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'