SKOLE SPORTNUUS - Twee leerders van Hoërskool Outeniqua het hul staal gewys tydens die 2026 SA skoleswemkampioenskappe wat van 23 tot 27 April in Kaapstad plaasgevind het.
Tiaan Terblanche (gr. 10) en Isabeau Coetsee (gr. 8) is albei vir die Wes-Kaapse swemspan gekies en het hulself onder die land se topskoleswemmers gevestig.
Tiaan het 'n sterk vertoning gelewer en vyf medaljes ingepalm. Hy het goud gewen in die 50 m-vlinderslag en 50 m-borsslag, terwyl hy ook brons verower het in die 50 m- vryslag, 50 m-rugslag en 100 m- rugslag.
Isabeau het egter die skare behoorlik beïndruk met 'n uitsonderlike reeks prestasies.
Sy het nie minder nie as ses goue medaljes gewen en drie nuwe SA skole-rekords opgestel in die 50 m, 100 m en 200 m-rugslag.
Haar oorwinnings sluit ook in die 100 m-vlinderslag, 100 m- vryslag en 200 m individuele wisselslag.
Isabeau Coetsee het ses goue medaljes gewen en drie nuwe SA skolerekords opgestel.
In die aflositems het sy verder bygedra tot die span se sukses met goud in die 4x100 m-wisselslagaflos, silwer in die 4x100 m-vryslagaflos en brons in die 4x50 m gemengde vryslagaflos.
Sy is aangewys as senior victrix ludorum - 'n kroon op haar prestasies.
Isabeau is boonop gekeur om Suid-Afrika by die Africa Aquatics Junior en Senior Swemkampioenskappe van 5 tot 10 Mei te verteenwoordig.
Sy is die jongste swemmer in die span en sal Kwaggaland se naam in Oran, Algerië, hoog hou. - Saamgestel deur Michelle Pienaar
Tiaan Terblanche het vyf medaljes ingepalm, waaronder twee goues vir die 50 m-vlinderslag en 50 m-borsslag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’