GEORGE NUUS - Reëlings is op koers vir 'n nuwe sosiale netballiga, Net-Social. Die eerste wedstryde vind reeds op 2 Augustus plaas.
So as jy lus is vir pret en om heerlik netbal te speel al is jy 'n beginner, staan gerus nader.
Alexander Venter, die organiseerder, sê dis oop vir enigiemand van die ouderdom van 13 jaar oud.
Daar was voorheen iets soortgelyk in George, maar dit bestaan nie meer nie. Hy is 'n onderwyser by 'n plaaslike skool en by die skool waar hy 'n leerkrag is, was daar ouers wat aangedui het dat hulle sosiaal netbal wil speel. Hy het die behoefte geïdentifiseer en die bal aan die rol gesit.
'n Span bestaan uit sewe lede. Daar is twee afdelings: 'n Afdeling vir dames en 'n afdeling vir gemengde spanne. Wedstryde sal 35 minute duur en dit maak voorsiening vir beginners tot mense wat net sosiaal wil speel.
Volgens hom is die soort netbal goed om vriendskappe te vorm of net om nuwe mense te ontmoet. Dit hoop om in mense se behoefte vir mededingendheid te voorsien en mense bymekaar te kry.
Wedstryde sal Woensdagaande tussen 18:00 tot 21:00 by Laerskool George-Suid se bane beslis word.
Die aanvangsliga sal tot 27 September duur. Afhangende van die behoefte kan seisoene kwartaalliks plaasvind. Daar sal verskillende uitspeelrondes wees.
Venter sê die belangstelling is sover goed. Altesame 10 spanne het reeds ingeskryf. Mense kan nog ingeskryf, maar moet dit so gou moontlik doen sodat die organiseerders die administratiewe reëlings in plek kan stel.
Vir meer inligting skakel 063 259 3397 of stuur 'n e-pos aan netsocialgeorge@gmail.com.
Alexander Venter
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’