GEORGE NUUS - Sydney Michaels (7) 'n gr. 2-leerder van George Voorbereidingskool het onlangs tydens die Suid-Afrikaanse junior geslote skaakkampioenskappe, in Benoni vanaf 1 tot 7 April, koning gekraai bo al haar teenstanders.
"Dit was 'n lekker gevoel toe ek hoor ek wen. Ek het dadelik my ouma gebel om vir haar te vertel. Sy was so trots soos my ma en pa." Sydney sê sy het elke dag geoefen ter voorbereiding van die kampioenskappe.
Sy het 10 van haar 11 rondes gewen en 'n goue medalje en trofee ontvang. Haar ouers, Ziska en Alton, prys haar konsentrasievermoë, "soms strek 'n ronde tot bykans drie ure," sê Alton. Tydens die kampioenskappe het Sydney twee rondes op 'n dag gespeel.
Volgens Ziska het Sydney in Oktober 2017 geleer hoe om skaak te speel, van daar het sy geoefen om die sport te bemeester. Sy is nie net wakker op 'n skaakbord nie, maar sy beoefen ook haar rats talent op gholf en tennisbane.
Sydney Michaels se ouers, Ziska en Alton is trots op hulle klein skaakkampioen. Foto's: Brümilda Swartbooi
As Sydney by die huis is, in Pacaltsdorp, speel sy graag Xbox saam met haar broer, Enrico, en suster, Lauri-Kay om die vreugde van haar kinderjare te geniet.
Die klein dinamiet gaan later vanjaar saam met die SA skaakspan aan internasionale toernooie deelneem. "Ek is bly ek gaan oorsee deelneem," sê Sydney.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'