TUINROETE NUUS - Die Klein-Karoo-voetslaan-klub (KKVK) hou Vrydag 18 Februarie om 18:00 sy algemene jaarvergadering by die Wesbank-tennisklub in Kerkstraat (tussen Parkweg en Buitekantstraat) in Oudtshoorn.
Huidige lede en enige belangstellendes wat meer van die klub en sy aktiwiteite te wete wil kom, is welkom om die vergadering by te woon.
Ná afloop van die vergadering is daar 'n gesellige bring-en-braai. Elkeen bring 'n piekniekmandjie met sy/haar eie vleis, drank en eetgerei saam, terwyl die klub sal sorg vir die bykosse, kole en braairooster.
Die KKVK bestaan al vir meer as 30 jaar en het elke jaar verskeie aktiwiteite op sy jaarprogram, insluitend dagstappe, naweekstappe en lang stappe (3 dae of langer) waarvan die moeilikheidsgraad wissel om soveel lede as moontlik te akkommodeer.
Vir mense wat daarvan hou om in die oop, vrye natuur te wees, onder die sterre te slaap, in waterpoele in rivierstroompies te swem en 'n bietjie wil wegkom van die gejaag en "geraas" van die moderne leefwyse, en natuurlik daarmee saam lekker fiks wil word, bied die KKVK geleenthede om dit alles te ervaar.
Vir meer inligting skakel Ann Blacquiere (073 1452 145), Danie Steyl (078 4693 727), Cara Maree (082 8543 628) of Wessel Steyl (082 3071 584).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'