GEORGE NUUS - Jukskei mag nou wel nie tel onder een van die sportgrotes nie, maar die entoesiasme waarmee Laerskool Ruiterbos se leerders dié sportsoort beoefen, skep die indruk dat dit op 'n nasionale platform saam met rugby, krieket en sokker tuishoort.
Jukskei word by dié klein plaasskool met 'n passie gespeel.
Ruiterbos is 'n plaas- en bosbouskooltjie wat sedert 1915 kinders uit die Leeukloof- en Ruiterbos-gemeenskap onderrig. Die skool het tans 88 leerlinge met drie departementele en een beheerliggaamonderwyser.
Dis veral die natuurlike talent van leerders soos Quilin Witbooi, Jamie Madola, Shurwin Pietersen en Lucritia McComring wat die SA jukskeispeler Bossie Boshoff diep beïndruk. Niks skrik hulle af om jukskei te beoefen nie, nie eens stormsterk winde of swaar reën nie.
Hy sê Lucritia het reeds 'n natuurlike draai in haar gooi, 'n tegniek wat selfs sommige ervare spelers nooit bemeester nie.
Boshoff, wat ook ondervoorsitter van die Eden-distrik jukskei federasie is, is druk besig om jukskei by skole in die Ruiterbos-omgewing te bevorder.
Dit vorm deel van dié federasie se ontwikkelingsinisiatiewe in Eden.
Hy het self in dié omgewing grootgeword en in 'n tweevertrekskooltjie op Leeukloof skoolgegaan.
Die skoolhoof van Ruiterbos, mnr. EA Lewis, beklemtoon die belangrikheid van sport in die ontwikkeling van jong kinders.
Hy sê jukskei is by uitstek 'n sport waar koördinasie, fokus, dissipline, beplanning en fiksheid almal gekombineer word en is dus 'n ideale sport vir kinderontwikkeling.
Boshoff sê dat die Eden-federasie hoop om nog meer skole van die omgewing te betrek, maar hulle planne word effe in die wiele gery deur 'n gebrek aan fondse.
Hier is van die topjukskeispelers saam met die personeel. Van links: Mnr. EA Lewis (skoolhoof), Quilin Witbooi, Jamie Madola, Bossie Boshoff (SA jukskeispeler en ondervoorsitter van die Eden-distrik jukskei federasie), Shurwin Pietersen, Tané Schutte (sportkoördineerder) en Lucritia McComring.
Die skeie is duur en daarom is dit belangrik dat hulle borgskappe kry om skeie aan te koop en bane te ontwikkel.
Tané Schutte, die skool se sportkoördineerder, het groot waardering vir die skeie wat die Eden-jukskei aan hulle geskenk het. Maar gebrekkige vervoerprobleme verhinder hulle om die spelers groter blootstelling aan toernooie en by ander skole te gee.
Sy sê dit beperk die ontwikkeling, gesonde mededinging en die verdere ontwikkeling van hul talent.
"Iets soos beskikbare vervoer wat ander meer gegoede skole se kinders as vanselfsprekend aanvaar, is vir hierdie kinders 'n luukse."
Schutte sê van die belangrikste behoeftes wat die skool benodig, is een of twee sandputte, skeie, penne, vervoer na sportgeleenthede en ervare spelers wat bereid is om te help met die afrigting.
Die enigste plek waar Laerskool Ruiterbos se jukskeispelers hul sport kan beoefen, is die graadeentjies se sandput. Maar dit sit hulle hoegenaamd nie af om met passie te oefen nie.
Tans beoefen hulle jukskei in die graadeentjies se ronde speelput.
Belangstellendes wat graag hierdie skool wil help met hul sport- en jukskei-ontwikkeling kan gerus vir haar of die skoolsekretaris, mnr. G Goliath kontak by 044 631 0033 of per e-pos ruiterbosprim@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'