GEORGE NUUS - Jong belowende tennisspelers van Laerskool Pacaltsdorp kry nou 'n gulde geleentheid om hul talente te ontwikkel danksy 'n vennootskap tussen die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport (DKES), die Eden-tennisfederasie en die Pro Tennis-akademie in George.
'n Groep van 20 junior leerders is by Laerskool Pacaltsdorp geïdentifiseer vir ontwikkeling.
Helgard Muller, afrigter van die Pro Tennis-akademie, is in beheer van die ontwikkelingsessies wat elke Woensdagoggend by die skool aangebied word.
Uit dié groep van 20 sal diegene met die grootste potensiaal verder in die fyner kunsies van tennis onderrig word. Muller het aan die George Herald gesê dié ontwikkelingsprojek is moontlik gemaak danksy die tussentrede van Cathy Gerber van die Eden Tennisfederasie. Sy het DKES genader en hulle het 'n ruim bedrag vir die ontwikkelingsprojek geskenk.
Nou is die rakette aan die swaai om die volgende geslag Roger Federer's en Anna Kornikova's hier op eie bodem groot te maak.
Danksy 'n vennootskap tussen die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport (DKES), die Eden-tennisfederasie en die Pro Tennis-akademie in George word 'n groep van 20 jong tennisspelers van Laerskool Pacaltsdorp by 'n groot ontwikkelingsprojek betrek om hulle in die fynere kunsies van tennis te onderrig. Dié ontwikkelingsroep is Woensdag by Laerskool Pacaltsdorp saam met die fasiliteerders afgeneem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'