GEORGE NUUS - Die Suid-Kaap jagters- en bewaringsvereniging (SJB) het die afgelope Junie-vakansie weer sy gewilde junior jagopleiding op 'n plaas in die Kalahari aangebied.
Elf hoërskoolleerders, waarvan 10 seuns en een dogter, het die kursus bygewoon.
Die kursus se oogmerk was om die historiese jagkultuur aan die jeug oor te dra asook hoe om die begrip "volhoubare benutting" prakties uit te leef.
Sommige van die leerders het ook SJB se veldskool bygewoon wat elke jaar vir laerskoolleerders aangebied word. Al die leerders moes eers Module 1 van die junior jagopleidingskursus voltooi voordat hulle kon kwalifiseer vir Module 2 van die junior jagopleiding.
Hierdie laaste gedeelte van die opleidingskursus het aan elke student die geleentheid gebied om onder mentorskap sy voorsitplek te kon kies en voor te berei, eie springbok te skiet, reg te ontwei en verder die vleis te bewerk.
Kursusmateriaal sluit in die aanvanklike beplanning van die jagtog tot by die verwerking van die vleis. Alles word prakties en in die veld aangebied, terwyl kampvuurstories en leierskapsontwikkeling om 'n gesellige kameeldoringvuur, deel van die opleiding uitmaak.
Almal moes hand bysit om hout bymekaar te maak vir die kampvuur.
Daar is vir agt dae in die veld gekamp en alle voedsel is in die veldkombuis gaargemaak en brode is in die sandoonde gebak. Elke student was ook aktief betrokke by die kosmaak en opruiming.
Die veilige en oordeelkundige hantering van 'n vuurwapen vorm 'n integrale deel van die opleiding. Elke student se skietvernuf moes eers op standaard wees voordat hulle toegelaat is in die jagveld.
Met suksesvolle voltooiing van die kursus word 'n CHASA (Jagterskonfederasie van Suid Afrika)-sertifikaat verwerf waarna die student kan registreer as toegewyde jagter.
Suid-Kaap jagters- en bewaringsvereniging het sy opregte dank uitgespreek aan die vele instansies en privaat donateurs wat op 'n gereelde basis bydraes maak om die jeug beter toe te rus om beredeneerde en sinvolle besluite te kan neem tydens omgang met ons natuurlike hulpbronne.
'n Springbok se dunderm word gemeet.
Veral mense soos Wilhelm Zietsman, Marnus Ferreira, Ferreira Meyer, Len Nel, Christo Engelbrecht, Fermi Meyer en Bennie Botha wat as mentors opgetree het, Wikus Snyman vir sy gasvryheid en vir die gebruik van sy fasiliteite tydens die besoek aan sy plaas in die Noord-Kaap.
Spesiale dank ook aan Johryn en "ouma" (tannie Maryna) vir die heerlike kos wat hulle voorberei het.
Vir inligting rakende junior opleiding kan die SJB-kantoor te Diazstrand geskakel word by 044 695 2319 of Fermi Meyer (bestuurslid: junior opleiding) 072 444 8236.
Die Suid-Kaap jagters- en bewaringsvereniging (SJB) het die afgelope Junie-vakansie weer sy gewilde junior jagopleiding op 'n plaas in die Kalahari aangebied. Hier is die 11 hoërskoolleerders in hul netjiese SJB-hemde wat die kursus bygewoon het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'