GEORGE NUUS - Jy kan nou op die bank gaan lê en Netflix kyk óf jy kan tydens die inperking sterk raak deur binnenshuis hard te oefen en gereeld te draf.
Dit was dié vriendelike vermaning van sy vermaarde afrigter, John Wakefield, wat die belowende jong bergfietsryer Tristan Nortjé, uit sy gemaksone geruk het.
Wakefield rig, onder andere, vir Matt Beers, wat vanjaar die Knysna Bull-bergfietswedren gewen het, en die o.23-bergfietswêreldkampioen, Alan Hatherly, af en hy is ook betrokke by die UAE Team Emirates se fietsryspan.
Die 23-jarige Nortjé, wat allerweë as een van Suid-Afrika se talentvolste bergfietsryers beskou word, het aan George Herald gesê hy het nie in sy wildste drome die inperking verwag nie en nog minder hoe dit sy beroepslewe in die daaropvolgende paar weke sou beïnvloed.
Nortjé het vanjaar die o.23-afdeling van die Knysna Bull gewen en algeheel tweede ná Beers geëindig. "Ek het eerlikwaar nie die inperking verwag nie en die besef dat ek vir minstens drie weke binnenshuis moes bly, het my tot in my tone geskok.
"Die eerste ding wat deur my kop geflits het, is hoe ek gaan draf en gimnasium toe gaan. Die blote gedagte dat ek vir 21 dae op my binnenshuise oefenfiets trapfiks sal moet raak, het my maag laat draai.
"Vir 'n aktiewe bergfietsryer wat daaraan gewoond is om weekliks honderde kilometers op roetes in en om George af te lê, was dit soos om tronkstraf opgelê te word.
"Ek kan beswaarlik 'n uur lank binnenshuis oefen, want dan droog my entoesiasme op."
Nortjé sê sy afrigter se vermaning het gelukkig nie op dowe ore geval nie en hom laat besef hy moet die beste maak van die omstandighede.
"Ek is 'n professionele atleet en kan nie toelaat dat sulke terugslae my die pad byster laat raak nie. Ek het werklik nie 'n ander keuse gehad as om die beste van my omstandighede te maak en gereeld om die huis te draf, te oefen en op my oefenfiets te trap nie. Al dié opofferinge sal my 'n sterker atleet maak.
"Dié inperking het my weer laat besef dat ons regtig dankbaar moet wees vir dit wat jy wel het. Nou waardeer ek die natuur meer en is ek bly dat ek buite die huis in die tuin kan gaan draf. Mens waardeer mos nie die klein dingetjies nie totdat dit van jou af weggeneem word."
Nortjé sê hy geniet nou die "huisarres" en binnenshuise oefening baie, baie meer as wat hy gedink het hy sal. "Maar ek droom daarvan om binnekort weer op die bergfiets in die bos te gaan ry."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'