GEORGE ROLBALNUUS - Die Outeniqua-rolbalklub se handelsliga wat verlede week uitgereën het en aanvanklik Dinsdae en Donderdagaande gespeel sou word, sal voortaan net op Donderdae plaasvind.
Verlede Dinsdagaand, toe die Relax Foam & Beds-reeks sou afskop, is die bane in damme omskep toe sterk reënbuie uitgesak het. Donderdagaand het dit weer gereën en hoewel die spelers aangemeld het, is besluit om nie te speel nie aangesien die bane steeds te nat was.
Dit was duidelik dat die deelnemers die sosiale rolbal baie gemis het en nie kan wag om weer te begin rol nie.
Nou skop die reeks vanaand (Donderdag) af en sal die kompetisie nie meer in twee afdelings beslis word nie.
In plaas van vierspelspanne soos in die verlede gespeel is, kan spanne in hierdie reeks net uit drie spelers saamgestel word om by die inperkingsmaatreëls in te pas.
'n Maksimum van net 36 spelers kan gesamentlik op die bane speel terwyl 'n bepaalde afstand tussen die spanne gehandhaaf moet word.
Die wedstryde begin om 18:00 en belangstellendes is welkom om dit gratis by te woon, maar moet ook aan die beperkings voldoen. Ligte etes word, soos in die verlede, deur die klublede voorberei en 'n kontantkroeg is beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'