Nie eens donderbuie kon die gees van die 112 spelers demp tydens die tweede ronde van hierdie kompetisie wat verlede week by die Outeniqua Rolbalklub plaasgevind het nie.
CMB het in die proses vanaf die algehele tweede na 10de posisie teruggesak en dit is ‘n bewys van die mededingende kompetisie wat oor ses weke tussen die 28 spanne plaasvind.
In die tweede ronde kon DTM Nissan daarin slaag om in ‘n naelbytstryd, wat by tye skitter-rolbal opgelewer het, met 9-8 teen Nels Meubels te sëevier. Met hierdie oorwinning het DTM na die tweede algehele posisie opgeskuif.
Na twee rondes behoort die algehele derde posisie aan die Finovo Goons wat in nog ‘n spannende wedstryd met 12-9 teen die Incredibowls gewen het.
Aurecon het weereens, as een van die nuwe inskrywings tot die liga, beïndruk toe hulle die Abacus E-lemonators met 13-10 uitoorlê het. Hulle tel onder slegs sewe spanne wat ná twee rondes met ‘n onoorwonne status spog.
In ‘n regruk-poging na ‘n terleurstellende eerste ronde het veral Glen Haven en Kruger Internasionaal hul posisies op die telbord versterk. Eersgenoemde het met 23-3 teen Shirts and Giggles beïndruk en in die proses met 10 plekke na die algehele 15de posisie opgeskuif terwyl Kruger Internasionaal se oorwinning van 14-7 teen Kirsten en Tulleken Vervoer aan hulle die 19de plek besorg.
Die Biltong Bar, Inovar Flooring, die Vintage Rollers, asook die MeyerAgri Strikers het almal hul eerste oorwinnings gesmaak.
Die kompetisie bereik vanaand (Donderdag) die halfpadmerk wanneer die derde ronde plaasvind.
Verskeie spanne, onder wie die twee borgspanne van Brandhouse en Secunda Sales, sal alles in die stryd werp om hul eerste oorwinnings in die reeks aan te teken.
Brandhouse kom teen die Heroldsbaai Manne te staan terwyl Secunda Sales vir Bellas die stryd aansê.
Spel begin om 18:00 by die Outeniqua Rolbalklub in Airwayweg, Heatherpark.
_jpg(4).jpg)
MSec Sekuriteit se span in ontspanne luim na afloop van spel. Die spanlede is (van links) Hannes Muller, Nan Kühn, Hein Killian en Keenan Barry (agter).
_jpg.jpg)
Mariska Nortjé, van die Grass Cleaners, in aksie teen die Vintage Rollers.