In die proses het die kompetisie, wat oor 6 rondes beslis word, nou sy halfpadmerk bereik.
Verrassings is nou al sinoniem met Brandhouse-ligas en hierdie twee rondes, wat in bitter koue op moeilike bane beslis is, was geen uitsondering nie.
Vuurwarm rolbal deur Glen Haven het verseker dat hulle hul onoorwonne status behou en in die proses vanaf die sewende na die algehele eerste plek (36 punte) opgeskuif het.
Eers het die Bella’s met 4-19 deurgeloop en daarna moes die span van Balls Up in ‘n spannende wedstryd met 6-11 die knie buig.
In die proses het Balls Up vanaf die 2e tot 5e posisie teruggeval.
As wenners van die somerliga is dit egter nog heeltemal te vroeg om hierdie span af te skryf en ‘n verbete aanslag word oor die volgende paar weke van hulle verwag.
Die tweede plek word deur die onoorwonne Incredibles beklee op 35 punte - slegs een minder as die voorloper. Hulle het eers vir die Run Away Come Backs met 12-7 en daarna vir Ink and Printer redelik maklik met 14-5 verslaan.
Die Run Away Come Backs is op 34 punte tans in die derde algehele posisie.
Nog ‘n onoorwonne span, Waltons, trek die aandag met goeie, konstante rolbal en staan tans uit onder spanne wat vir ‘n eerste keer aan aandligas deelneem. Hulle verdien daarom om algeheel vierde geplaas te wees op 32 punte - 4 agter die voorloper.
Drie spanne het in die derde ronde ook hul eerste oorwinnings behaal.
Die Bosnimfies het met 12-6 teen KGB gewen, die Bosrollers met 14-5 teen FNB (A) en Awesum 4Sum het in ‘n spannende wedstryd met 9-8 teen die Oubaai Manne geseëvier.
As gevolg van die All Cape-toernooi wat in Oos-Londen plaasvind, sal geen spel vanaand (Donderdag) plaasvind nie, maar wel op 13 Mei wanneer die vierde ronde by die Outeniqua Rolbalklub sal plaasvind. Spel begin om 18:00 en almal is welkom om die 28 spanne te ondersteun.
Rig navrae aan Jaco Visagie (082 453 4465).
.jpg)
Johan Venter, Juan Louw, Greg Young en Scholtz Bruwer (van links) van Glen Haven saam met Marius Esterhuizen van Brandhouse.