GEORGE ROLBALNUUS - Die jaarlikse All Cape-rolbalkampioenskap vir vroue vind vanjaar in Kaapstad plaas. Spanne van rolbaldistrikte wat in die voormalige Kaapprovinsie geleë is, neem aan dié kompetisie deel en sluit spanne in van Westelike Provinsie, Boland, Eden, Oostelike Provinsie, Grens en Noord-Kaap (voorheen bekend as Griquas).
In 2019 was Oostelike Provinsie die gasheer en is die kompetisie in Port Elizabeth en omliggende klubs gespeel.
Die vrouespan van George, bestaande uit Petro Breedt, Marthie Pringle, Jenny Sinclair en Wendy Murray, het die goue medalje ingepalm toe hulle in die eindstryd met die sterk span van Jenny Cherry van The Woods-klub van Port Elizabeth afgereken het.
George-rolbalklub stuur weer dieselfde span op 28 Maart na Kaapstad waar hulle weereens alles in die stryd sal werp om weer die titel in te palm.
Hulle speel nege wedstryde teen verskeie spanne van klubs in die Westelike Provinsie, waaronder Constantia, Plumstead, Medowridge, Strand, Mowbray, Pinelands, Jaggers en Glen CC en ook 'n span van Leasure Isle.
George-rolbalklub het ook 'n tweede span wat in Kaapstad gaan meeding.
Dié spanlede is Joey Booysen, Jill Power, Anne-Marie Palmer en Peta-Anne Basford; ook 'n span waarmee deeglik rekening gehou sal moet word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'