GEORGE SPORT-NUUS - Sport kan 'n belangrike rol speel om die jeug van vandag te help. So vertel 'n wyse gryse, Doreen Martin-Jacobs wat op haar dag diep spore in die hokkiewêreld getrap het.
Sy was onder meer van 1977 tot 1988 president van die Suid-Afrikaanse Hokkieraad en in 2012 was sy die oudste persoon om 'n eretoekenning van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport te ontvang.
Onlangs het sy haar 98ste verjaarsdag gevier. Sy is nie meer direk by sport betrokke nie en is nog flink van verstand. Sy is ook 'n oudonderwyser en die jeug lê haar ná al die jare steeds na aan die hart.
Haar eie lewenspad het 'n paar ver draaie geloop. Sy is in die destydse Distrik 6 gebore. In 'n stadium het die familie getrek, maar later weer teruggekeer.
Op laerskool was sy baie sku en skaam. 'n Vriendin het haar genooi om saam te gaan hokkie speel en so het haar lang verbintenis met die spel begin. "Ek het onmiddellik van die spel gehou." Later in haar lewe het sy by die administrasie van die spel betrokke geraak.
Deesdae hou sy nie meer van hokkie nie, want die reëls het te veel verander. "Dis nie meer 'n taktiese spel nie."
Na skool het sy onderwys gaan studeer. In haar onderwys-loopbaan het sy op verskeie plekke skool gehou waaronder Kraaifontein en Simonstad.
Doreen Martin-Jacobs (voor) en Glynis Kuscus. Die twee loop al 'n lang pad saam. Foto: Eugene Gunning
In 1948 is sy getroud met Jerry Martins. Hy was by die Kaapse Korps betrokke en het tydens die Tweede Wêreldoorlog vier jaar in Egipte deelgeneem aan die oorlog.
Die egpaar was beide betrokke by sport. Hy hoofsaaklik by rugby en sy by hokkie en sagtebal. Hy is in 1963 oorlede.
In 1988 het huweliksgeluk weer haar pad gekruis toe sy met Wilson Jacobs getroud is.
Hulle het mekaar al van hul jongdae geken, maar het eers in verskillende rigtings gegaan voordat hul lewenspaaie weer gekruis het.
Haar kennismaking met George het begin toe hulle wittebrood hier kom hou het.
Later wou haar man terugkeer na Kanada en sy het eers agtergebly om haar hokkieverpligtinge na te kom. Daar het hulle 'n rukkie gewoon en teruggekeer Kaapstad toe.
Haar man het twee erwe in Pacaltsdorp gekoop. Hulle het George gereeld besoek en in 1993 permanent na George verhuis. Sy woon nog in dieselfde huis as 25 jaar gelede.
Om 100 jaar oud te word, is iets waaraan sy nie veel dink nie. "As dit moet gebeur, dan is dit so."
Sy is nog steeds by die gemeenskap betrokke en is die oudste lid van die Wes-Kaapse Anglikaanse Vrouebeweging.
Doreen Martin-Jacobs (98) wat diep spore in Suid-Afrikaane hokkie getrap het, by haar huis in George. Foto: Eugene Gunning
Wanneer sy gesels oor die jeug en sport, helder haar gesig op. Sy glo sport moet meer ingespan word om die jeug te help. As oudonderwyser volg sy graag die verhoudinge tussen kinders en ouers en sy het vrae oor vandag se situasie. Toe sy 'n kind was, was daar nog dissipline. Vandag is dit anders.
"Ek kry soms die indruk ouers luister eerder na hul kinders."
Destyds het kinders nog respek gehad vir hul ouers. Na al die jare is sy baie dankbaar vir die opvoeding wat sy van haar ouers ontvang het.
Sy het baie begrip vir die rol van 'n ma in die samelewing.
Volgens haar begin dinge in die ouerhuis.
"Dis jammer hoe kinders vandag hul ouers behandel. Ouers stel nie vandag 'n voorbeeld vir hul kinders nie. Kinders se gedrag is die spieël van hul ouerhuis."
Glynis Kuscus, wat al 23 jaar 'n pad saam met haar loop en haar veral bystaan op haar oudag, beskryf haar as opreg, baie vrygewig en iemand met 'n groot hart.
Sy is ook 'n diep gelowige mens en iemand met baie sterk standpunte. Sy is lief vir reis en het al verskeie lande besoek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'