Hierdie span van Tony Raschbichler gaan vir die derde keer agtereenvolgens hul titel verdedig en hulle gaan nie maklik van hul troontjie gestoot word nie.
Behalwe vir die nuwe spanne wat onbekende faktore kan wees, is van die ou staatmakers soos Meyer Konstruksie, South Cape Auto, Kirsten & Tulleken Vervoer/ Kommaweer Stoffeerders, Kloppers, BDE Consult, Magic Moppers en Rooi-rivier Sportklub ook weer daar om hulle die stryd aan te sê.
Hierdie gewilde besigheidsliga het weer 'n rekordgetal inskrywings gelok met 'n aantal nuwe spanne wat hul toetrede tot die kompetisie gaan maak. Daar is onder andere Smitties Nr Plates, ESD Konstruksie, George Used Car Parts, Tradelink Textile Services en Home Audio Installers met Digifusion en The People Party se dames wat weer hul terugkeer maak na 'n lang afwesigheid.
Alle belangstellendes is welkom om elke Donderdagaand van 18:00 af te deel in die pret en plesier van rolbal en hul spanne te ondersteun.
Wedstryde word by die Outeniqua-rolbalklub se bane in Airwayweg, Heatherpark gespeel.
Gaan The Butcher Boys, wat hier met arms vol geskenke staan na hul sege in die vorige Brandhouse-liga, hierdie keer op pad na die kampioenskap gestuit word? By die spanlede staan Marius van der Westhuizen van Brandhouse links en Johan Meyer van Outeniqua-rolbalklub agter.