EDEN SPORTNUUS - Die Eden-sportraad loop breë bors rond na die 2018 Wes-Kaap se sporttoekennings wat in Pinelands deur die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport aangebied is en waartydens sewe plaaslike sportlui met Wes-Kaapse toekennings bekroon is.
Behalwe die toekennings uit 23 kategorie is finaliste uit al ses die Eden-sportdistrikte opgelewer.
Die Protea-speler van George, Elma Davis (Eden-rolbal), is aangewys as die Wes-Kaap-sportvrou van die jaar. En om net te wys rolbal is 'n gesinsport, word haar eggenoot, Trevor Davis, (Eden-rolbal) as die Wes-Kaap-administrateur bekroon.
Die ander wenners was HLS Oakdale se 560kg-toutrekspan (Wes-Kaap-skolespan), Jacquine Strydom van Eden-skopboks (Wes-Kaap-skolesportvrou), Antonio Farmer van ASWD (Wes-Kaap-skolesportman), Claudio Miller van Eden-lewensredding (Wes-Kaap-afrigter) en Deidre Cloete (Wes-Kaap-sportfotograaf). Die hele Eden kan opreg trots wees op hierdie uitblinkers. Die ander finaliste wat genomineer was, is ASWD (federasie), Doriano Moretti van Eden-skerm (nuweling), Janine Kotze van Eden-pluimbal (tegniese uitnemendheid), Christo Vermaak van die Oudtshoorn Courant (sportjoernalis), Oudtshoorn Christelike Jeugforum (rekreasie), Kalma Hayes van Eden Perdesport (gemeenskapsbouer), SK mid-amateurgholfspan (span), Thembalethu-jukskei (inheemse sportspan), Alvine Volkwyn van Carpe Diem (sportvrou met gestremdheid), Chris Patton van Eden-rolbal (sportman met gestremdheid), Meike Strydom van ASWD (junior sportvrou), Jean du Plessis van Krieket SWD (junior sportman), Jovan Rebula van Suid-Kaap Gholf (sportman), Joy Goulooze van Eden-lewensredding (vrywilliger) en Laerskool Franken van Herold se judospan (ontwikkelingskoolspan).
Van die Eden-sportlui wat Wes-Kaapse toekennings ontvang het met hul sertifikate.
Die bekroonde Trevor en Elma Davis saam met Desmond Speelman, voorsitter van die Eden-sportraad.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'