GEORGE NUUS - Die WP senior bokskampioen-skappe het die naweek van 28 en 29 Mei in die Rosemoor Action Sport-saal in George plaasgevind.
Twee plaaslike boksers is aan die einde van die toernooi as kampioene in hulle onderskeie gewigsafdeling aangewys.
Keenan Botes van Divinus-boks-klub in George het in die finaal van die ligswaargewigafdeling teen S Jackson van Hermanus geboks.
Botes het kalm begin en sy teen-stander, wat ook 'n goeie bokser is, maar wild ingeklim het, eers met linkerpikhoue weggehou. Die eerste ronde het redelik gelykop verloop. In die tweede ronde het Botes se handspoed die oorhand gekry en hy het Jackson met vaart en voltreffer kombinasies tot oorgawe gedwing.
Botes, wat skitterend geboks het, was absoluut in beheer en Jackson se hoek het die handdoek ingegooi om skade aan hulle bokser te vermy.
In die finaal van die swaargewigafdeling het Johre Duvenhage, ook van Divinus-boksklub, teen P Rossouw van Kaapstad geboks. Rossouw is 'n reus van oor die twee meter en was die gunsteling vanweë sy lengte- en groot gewigsvoordeel. Duvenhage se arsenaal van houe was egter te veel vir Rossouw en hy is deurgaans met haakhoue, opstoppers en reguit houe op sy lyf en gesig getref.
Duvenhage het al die rondes oorheers en dis 'n pluimpie vir Rossouw dat hy nie uitgeslaan is nie. Hierdie geveg was waar-skynlik die beste geveg van die toernooi en het die skare op hulle voete gehou.
Afrigter Blackie Swart is baie trots op beide boksers. "Ons het hard gewerk daarvoor!"
Divinus-boksklub by George-skouterrein is geaffilieer onder die South African Sports League.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'