GEORGE NUUS - 'n Gr. 11-leerling van Hoërskool Outeniqua, Chanelle Britz, het nie net haar skool trots gemaak nie, maar ook George self. Sy het reeds indruk gemaak op die atletiekbaan en onlangs ook op die rugbyveld.
Chanelle is vroeër vanjaar tydens ASWD se prysuitdeling aangewys as die beste vroue baan- en veldatleet van die jaar 2022.
Sy het die erkenning gekry vir hamergooi. Haar punte op die ASA Bekker-tabel was die hoogste in die ASWD-streek met 897 punte. Chanelle het verbasend genoeg die prestasie behaal want daar was baie sterk mededinging van baie ander goeie vroue-atlete.
Dit hou egter nie by atletiek op nie. Haar pa, Albertus Britz, sê sy is onlangs uit 'n groep van 90 dogters gekies vir die o.18- oefengroep vir SWD-vrouerugby. Chanelle is een van die losvoorspelers (8).
Sy staan dus 'n kans om in die groep van 23 spelers opgeneem te word wat van 9 tot 14 Julie in Gauteng gaan toer en teen ander provinsies meeding.
Hamergooi
Volgens hom het Chanelle in 2019, toe sy nog in gr. 7 was, betrokke geraak by hamergooi. Stiaan Wolfaardt het Chanelle raakgesien toe sy nog in Laerskool George-Suid, waar sy vir die eerste span hokkie gespeel het.
Chanelle het aanvanklik glad nie geweet wat hamergooi was nie. "Ek het haar die dag na die oefeninge geneem waar Wolfaardt vir Chanelle gesê het sy moet drie stilstaande gooie gooi."
Een van die gooie was 16 meter.
Wolfaardt het toe vir haar gevra of sy daarvan hou en sou belangstel om hamergooi saam met die hoërskoolleerlinge te oefen. Sy was baie opgewonde daaroor. In Augustus 2019 het Chanelle aan haar eerste byeenkoms as hamergooier vir die o.14- dogters deelgeneem.
Rugby
Die rugby was deur ousus Lee-Ann se toedoen wat by Hoërskool George begin oefen en rugby onder leiding van afrigter Sharmark Pedro speel. Pedro het die o. 16 en o.18-dogters afgerig. Hoërskool Outeniqua het geen dogtersrugby nie.
Chanelle het begin om saam met Lee-Ann hulle fiksheidsoefeninge te doen. Sharmark het haar pa gevra of Chanelle nie die SWD o. 16-dogters se oefeninge wil bywoon nie. "Ek was eers baie daarteen, maar het toe laat Chanelle na die proewe deurgaan waar sy en haar suster albei verlede jaar die SWD-rugbytoergroep gehaal het. Dit was vir ons 'n baie groot eer dat die twee susters albei gekies kon word.
"Chanelle is suksesvol weens haar baie harde werk in oefeninge in die gimnasium."
Sy is pligsgetrouheid en as sy eers haarself motiveer, kry niks haar onder nie. Sy is 'n baie nederige dogter, maar oefen ontsettend hard vir dit wat sy tot dusver in haar jong lewe bereik het.
Chanelle Britz
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’