GEORGE ROLBALNUUS - Carpet King, wat 'n skrale voorsprong behou het na die vyfde ronde van die Outeniqua-rolbalklub se Somerliga vir besigheidspanne sal nou lank moet vasklou aan die posisie omdat die eindronde van die liga tot verdere kennisgewing uitgestel is.
Die uitstel, asook die uitstel van die volgende reeks, volg na die parlement se maatreëls om die verspreiding van die Koronavirus (Covid-19) teen te werk.
Verskeie ander rolbaltoernooie op klub-, provinsiale- en nasionale vlak is ook reeds op die lange baan geskuif.
Carpet King het sy behoud van die voorsprong te danke aan hul skrale oorwinning oor Accidental Bowlers terwyl Butz & Guts, wat in die tweede plek is, weer vir KTV geklop en tans net een ligapunt minder as Carpet King het.
Kommaweer Stoffeerders het ook dramaties opgeskuif na die derde plek danksy hul oorwinning oor Ricoh wat na die 11de posisie teruggesak het.
Four Jacks het ook opgeskuif na die vierde posisie na hul sege oor Eden Bouprojekte.
Intussen het baie van die spanne besluit dat hulle gereeld gaan balle rol om wedstrydfiks te bly totdat die reeks se finale gespeel kan word.
Behalwe die virus het die beurtkrag ook sy impak op die vyfde ronde gemaak deurdat die klub nie ligte etes kon maak nie en die laaste spanne selfone se flitsies moes gebruik om die laaste koppe te speel.
Dit het egter nie die spelers afgeskrik nie en hulle het enduit gerol.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'