GEORGE NUUS - Die Olimpiese Spele wink vir die 13-jarige Britney Adonis van Touwsranten. Die skugter tiener wat as 'n jong kind geboelie is, is aan skermsport voorgestel toe sy agt jaar oud was, en onmiddellik ingepas asof dit vir haar gemaak is.
Met skerm het 'n nuwe wêreld oopgegaan vir Britney wat onlangs in die Nasionale Junior Olimpiese-skermprogram opgeneem is. Dit na sy onlangs vyfde in haar ouderdomsgroep gekom het by die Junior en Kadet Afrika-skermkampioenskap in Ghana.
Afrigter Susan Agrella sê dit beteken Britney is vyfde in Afrika in haar kategorie na sy die bronsmedalje met een punt gemis het.
Dié leerder van Touwsranten VGK Primêr het volgens Agrella, elke week hard geoefen en het die regte kwaliteite gehad vir die sport. "Sy voer die instruksies korrek uit, identifiseer haar eie foute, interpreteer haar opponent se aksies en loods teenaksies en lê taktiese en tegniese vaardighede aan die dag."
Vir Britney het die lewe soos handomkeer verander toe sy begin skerm het.
"Ek sou seker in die strate rondgedwaal het en by dwelms betrokke geraak het, as dit nie vir skerm was nie."
Haar ouma, by wie sy bly, ondersteun haar 100% in haar droom om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer.
Sy het aan kompetisies begin deelneem in Kaapstad, Durban, Bloemfontein, Johannesburg en Port Elizabeth en uitstekend gevaar. Agrella sê Britney moes egter wag totdat sy 12 geword het voordat sy kon deelneem aan die uitdunne vir die SA span. "Daar is min kinders uit Touwsranten wat al verder as Oudtshoorn of Mosselbaai was. Dit is 'n duur sport, maar ek bied dit gratis aan vir die wat wil leer."
Voorblad: Die Olimpiese Spele wink vir die 13-jarige Britney Adonis van Touwsranten wat onlangs in die Nasionale Junior Olimpiese-skermprogram opgeneem is. Na sy begin skerm het, het 'n nuwe wêreld vir Britney oopgegaan. Hier is sy saam met haar afrigter, Susan Agrella.
Britney het haar erekleure ontvang toe sy 12 was en het ook die span gehaal. Dié span was verlede week in Ghana vir die kompetisie.
Sy het haar eerste bronsmedalje gewen tydens die Oos-Kaap ope o.13 in September 2014 en silwer ook in o.13 in 2018 by die Junior Nasionale Kampioenskap.
Volgens Agrella kan slegs o.17- en o.20-deelnemers oorweeg word vir die junior nasionale-span. Britney kry finansiering van die department kulturele sake en sport, maar dit dek blykbaar nie naastenby al die uitgawes nie. Agrella sê die res dek sy persoonlik. "Dis 'n voorreg om dit te doen na die gemeenskap hul deure en harte vir my oopgemaak het." Dit kos bykans R14 000 om 'n skermer toe te rus.
Hulle beplan om in 2021 te kwalifiseer vir die Junior Afrika-kampioenskappe vir beide sabel en epée. "In sabel wil sy ten minste brons wens, maar mik vir goud. Dit beteken sy moet twee deelnemers, van Parys en Londen, wen."
Ook wil Britney met Agrella se hulp in 2022 die Wêreldkampioenskap bywoon.
Susan Agrella en Britney Adonis dra maskers om seker te maak die koronakieme bly weg.
A young fencing athlete from Touwsranten has been selected for the National Junior Olympic Fencing-programme. Britney Adonis (13) qualified for the SA team at the Junior and Cadet Africa Fencing Championship in Ghana recently. She missed the bronze medal with only one point and this achievement placed her 5th in her category in Africa. According to her coach, Susan Agrella, Britney showed exceptional talent and put in a lot of hard work ever since she started fencing at the age of eight.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'