Video
GEORGE NUUS - Wanneer baie mense môreoggend, 16 Julie, opstaan om gereed te maak vir die dag se verantwoordelikhede, sal Bianca Buitendag van Victoriabaai, al op pad wees na Japan om aan die Olimpiese Spele te gaan deelneem.
Die branderplankkampioen en inwoner van Victoriabaai, is die enigste Suid-Afrikaner wat die land in die sport by die Olimpiese Spele, wat van 23 Julie tot 2 Augustus plaasvind, gaan verteenwoordig.
Branderplankry het eers 'n paar jaar gelede die groen lig as Olimpiese sport gekry. Vanjaar is die eerste keer dat branderplankryers aan die Olimpiese Spele deelneem.
Buitendag (27) was die afgelope paar dae druk besig met finale voorbereidings vir haar deelname. Vir haar is dit 'n droom wat waar word.
Dit was haar ouers, Colin en Yvette Buitendag, wat haar kleintyd aangemoedig het om aan die sport deel te neem. Sy het reeds op 5-jarige ouderdom begin branderplankry.
Haar pa, wyle Colin, was op sy dag self 'n provinsiale branderplankryer.
Kyk 'n video hieronder.
Op 10-jarige ouderdom het sy mede-dingend begin deelneem en op 14-jarige ouderdom het sy Springbok geword.
Sy het die afgelope tyd drie keer per week in 'n gimnasium en minstens een keer elke dag in die see geoefen. Soms twee keer per dag in die see.
Buitendag het voor haar vertrek na Japan op Victoriabaai met George Herald gepraat.
Sy is baie opgewonde oor haar deelname aan die Olimpiese Spele. Voordat sy egter met haar branderplank in die see kan gaan in Japan, sal daar eers 'n klomp aangeleenthede wees wat afgehandel moet word. Sy kom Saterdag in Japan aan. Voordat sy van die lughawe na die atletedorp kan vertrek sal sy eers vir Covid-19 getoets moet word en ander prosedures nakom. Al die prosedures sal na verwagting 'n hele paar uur neem. Sy is bietjie senuweeagtig en angstig oor al die toetse en prosedures wat afgehandel moet word.
Die kompetisie word oor ses rondes beslis. Dis nie altyd seker watter dae dit gaan plaasvind nie. Seetoestande en die weer kan 'n invloed daarop hê.
Dat dit 'n unieke Olimpiese Spele gaan wees, ly geen twyfel nie. As sodanig is sy nie bang vir deelname aan die Olimpiese Spele nie. Sy het al aan verskeie kompetisies deelgeneem en sy doen dit vandat sy 13 jaar oud is. Die formaat van die kompetisie is nie vir haar vreemd nie.
Geen toeskouers word by die Olimpiese Spele toegelaat nie en ongelukkig sal haar familie nie kan saamgaan nie. Net haar afrigter gaan saam.
Sedert dit bekendgeword het dat sy aan die Olimpiese Spele gaan deelneem het sy wye steun uit verskeie oorde ontvang.
Volgens haar verstaan mense nie altyd die konteks van brandplankrykompetisies nie. Die Olimpiese Spele is egter 'n universele term.
Buitendag sien daarna uit om Suid-Afrika te verteenwoordig.
Natuurlik sal sy 'n graag 'n goue medalje wil wen, maar sy sal tevrede wees sy as 'n podiumplek behaal. "Ek weet ek mik hoog, maar ek weet ek is daartoe in staat."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'