GEORGE NUUS - Die Georgiet Matthys Beukes en Philip Buys van PYGA Euro Steel het hul bergfietsseisoen op 'n hoogtepunt afgesluit deur die FNB Wine2Whales-bergfietsmarthon (W2W) Sondag by Onrus te wen.
Die duo, wat vanjaar skoonskip gemaak het in alle bergfietswedrenne in Suid-Afrika, het die driedaagse W2W oor 210 km in 'n wentyd van
7 uur 59 minute en 48 sekondes afgelê en, onder andere, met die legendariese Switser Christoph Sauser, en sy spanmaat, Konny Looser, afgereken.
Beukes en Buys, wat twee van die drie skofte gewen het, is die eerste span wat die Wine2Whales-wedren in minder as 8 uur kon klaarmaak.
Sauser en Looser het die eerste skof gewen, maar toe het Beukes en Buys beheer geneem, spoed vermeerder en vandaar af enduit voorgeloop.
Hulle het die derde skof oor 69 km in 'n indruk-wekkende 2 uur 30 minute en 8 sek afgelê.Dit was Beukes se eerste oorwinning in dié wedren, wat by Lourensford in Somerset-Wes begin het en drie dae later by die Onrus-karavaanpark geëindig het.
Beukes het aan die George Herald gesê hoewel hy en Philip vanjaar bergfietwedrenne oorheers het, is hul oorwinning in die W2W die hoogtepunt van die jaar.
"Die W2W strek oor 'n baie mooi roete en was die gepaste wedren om ons jaar mee af te sluit." Die W2W het deur 13 wynplase, 26 private plase en oor ses berge gestrek.
ARTIKEL: HUGO REDELINGHUYS, GEORGE HEARLD-SPORTREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutse George, Tuinroete nuus'