GEORGE NUUS - Die organiseerders van die Finova Jakkalberry 100 Miler-bergfietswedren moes as gevolg van die aandklokreël, wat steeds vanaf 24:00 tot 04:00 van krag is, aanpassings maak en die nagren na 'n dagren verander.
Die wedren begin Saterdag 18 Desember om 06:00 by die Jakkalsvlei-wynkelder naby Herbertsdale, Mosselbaai en eindig dieselfde dag by die Redberry Farm net buite George. Dit sal die eerste keer wees dat dit plaasvind. Registrasie vind vanaf 05:00 die oggend plaas.
Die omgewing het die afgelope twee weke baie reën gehad en gevolglik moes die organiseerders ook die roete deur die Outeniquaberge aanpas. Daar sal vyf waterpunte op die roete wees waar eet- en drinkvoorraad aangevul kan word. Laerskool George-Suid is 'n ondersteuner van die aktiwiteit en gee hulpbronondersteuning tot die wedren.
Die George Vryburgers bied die geleentheid in samewerking met die hoofborg, Finovo, 'n plaaslike rekenmeestersfirma, asook verskeie ander borge en donateurs aan. Die fonds sal vir die Kos vir kinders-projek aangewend word.
Inskrywings
Daar is nog genoeg plek vir mense wat wil inskryf. Enigiemand bo 18 jaar kan inskryf, maar deelnemers moet verkieslik 'n mate van fiksheid hê. Dit is nie vir onfikse beginners nie.
Vir meer inligting en/of om in te skryf, volg hierdie skakel: www.entryninja.com/events/jakkalberry
Streng Covid-19-regulasies is in plek en sal gevolg word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'