TUINROETE BERGFIETSRYNUUS - Twintig entoesiastiese jong bergfietsryers uit Eden het die eerste jeugoefenkamp by die Garden Route Trail Park by Barrington tussen George en Knysna bygewoon.
Dié oefenkamp, 'n eerste vir afdraande- en Enduro-bergfietsryers, is aangebied deur Johan Potgieter, vyfmalige Suid-Afrikaanse afdraande (downhill) kampioen. Michard Meets, wat die baan soos die palm van sy hand ken, het hom ondersteun.
Die 10-jarige Kuaan van Tonder was die jongste ryer wat die oefenkamp bygewoon het. Die onverskrokke Jenna Byrnes was die enigste dogter by die kamp.
Potgieter was vol lof vir die jong klomp wat die oefenkamp gebruik het om hul tegnieke op te skerp. "Dié eerste oefenkamp het my stoutste verwagtinge oortref. Ek is supertrots op die 20 jong bergfietsryers wat hier aan hul tegniek kom slyp het. Hulle het werklik puik gejaag en ek het soveel plesier uit hul entoesiasme en passie geput.
"Na die frustrasies wat die Covid-19-pandemie meegebring het, was dit 'n heerlike en ook leersame oefening vir almal. Hul ouers verdien ook erkenning vir dié belegging wat hulle in hul kinders gemaak het."
Tydens die erge brande in die Knysna-omgewing drie jaar gelede het die Garden Route Trail Park heeltemal afgebrand. Dit het nou letterlik uit die as verrys om weer 'n speelpark vir oud en jonk te word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'