GEORGE NUUS - Die Bears-sagtebalklub van Pacaltsdorp het verlede Saterdag by die Eden-sagtebaltoernooi op die Pacaltsdorp-sportterrein goed rekenskap van hulself gegee teen hul meer ervare teenstanders.
Hoewel Bears nie 'n wedstryd kon wen nie, het hulle teen Saints van Port Elizabeth groot belofte getoon.
Nadia Townshend, tesourier van die Eden-bofbalvereniging, sê die span het eers twee weke voor die toernooi begin saamoefen en dat hulle nog nie naastenby op hul skerpste was nie.
"Maar die meisies is entoesiasties en gewillig om te leer." Sy sê die groot probleem is dat Bears nie juis veel kompetisie in die Suid-Kaap het nie.
"Dis net ons en Groot-Brak wat sagtebalklubs het teen wie ons soms kan oefen."
Al het hulle slegs twee weke voorberei vir verlede Saterdag se Eden-sagtebaltoernooi, het die Bears-sagtebalspan van Pacaltsdorp goed rekenskap van hulself gegee. Die spanlede is agter van links: Charmaine Percy, Veronica Nelson, Nadia Townshend, Ciara Tait, Juanita Tait en Druneigh Las. Voor: Jenna Treurnicht, Cindy du Plessis, Caitlin Cupido, Juvine Malgas, Mame-Fatou en Fatima Ndiaye.
Die klub nooi enigeen tussen die ouderdomme van 13-50 uit om op Dinsdae en Donderdae van 18:00 af op die Pacaltsdorp-sportterrein saam met Bears te oefen.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'