Gallery
GEORGE NUUS - Vanjaar se Spur to Spur 10 km-aand-wedloop is gekenmerk deur hoë temperature selfs ná 18:00. Hierdie wedloop vind al vir etlike jare plaas en is slegs onderbreek gedurende die Covid-19-inperking.
Die wedloop verlede Woensdag, 18 Januarie, het gestrek vanaf die Garden Route Mall se Timberwolf Spur tot by die Geronimo Spur in Yorkstraat. Volgens Duppie du Preez, organiseerder, het twee atlete weens 'n tekort aan suurstof in die hospitaal beland.
"Gelukkig was die mediese span wat aan diens was gedurende die wedloop vinnig daar om die nodige hulp te verleen," het hy gesê.
Ten spyte van die hitte het die plaaslike langasem van Nedbank-atletiekklub, Lloyd Bosman, steeds die wedloop voltooi teen 'n uitstekende tyd van 31,06.
In die damesafdeling het 'n voormalige plaaslike atleet, wat deesdae in Potchefstroom studeer, Stephanie Pedro, met 'n tyd van 38,39 gewen. Hierdie tyd is baie goed, wanneer 'n mens die hitte in ag neem.
FOTOGALERY: Spur to Spur 10 km-aand-wedloop
Meer as 350 atlete het vir die wedloop ingeskryf. Na die tyd het 'n lekker gees geheers en twee atlete was gelukkig om skoene te wen toe hulle nommers met die prysuitdeling getrek is.
"Outeniqua Harriers glo dat atlete weer in getalle sal terugkeer na die volgende wedloop wat waarskynlik in November sal plaasvind, maar die keer van Yorkstraat na die Garden Route Mall," het Du Preez gesê.
Vrouewenner Stephany Pedro het die 10 km in 'n tyd van 38 minute en 39 sekondes voltooi.
Manswenner Lloyd Bosman het die wedloop teen 'n uitstekende tyd van 31,06 voltooi.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'