GEORGE ROLBAL NUUS - Woensdag, 6 November was by die George-rolbalklub 'n baie besondere en spesiale dag toe die oudste aktiewe rolbalspeler in Suid-Afrika, en waarskynlik in die wêreld, Johan Havenga, sy 94ste verjaarsdag by die klub en op die rolbalbaan gevier het.
Ter viering hiervan is onder andere 'n vriendskaplike wedstryd gereël waaraan al ses lewenslange erelede van die klub en die meeste voormalige presidents deelgeneem het.
Johan Havenga het in Mei 2001 by George-rolbalklub aangesluit en het in 2006 en 2007 as president van die klub gedien. In 2009 word hy aangestel as ontwikkelingsbeampte van Eden-rolbal en word in 2011 deur die Sportraad as afrigter van die jaar aangewys en ontvang ook daardie jaar die toekenning as sportlegende van die jaar van die Sportraad.
By die klub ontvang hy verder ook in 2016 die Presidentstoekenning vir leierskap en toewyding. Daarbenewens ontvang hy ook ere lewenslange lidmaatskap van George-rolbalklub sowel as van Eden-rolbal.
Hy is tans steeds bedrywig met afrigting van die klub en die distrik se junior rolbalspanne, en speel in klub- en distrikkompetisies.
Die spelers wat aan die wedstryd ter ere van Havenga se 94ste verjaarsdag deelgeneem het is van links: Ian Vermaak, Kallie Haupt, Johan Havenga, Jenny Sinclair, Akker van der Merwe en Vlam Basson. Afwesig: Hannes Muller.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'